{ARGIEF}

Die vraag word dikwels gevra of daar genoegsame morele wil op die oomblik onder die leierskap in Suid-Afrika bestaan. Dit geld vir politieke, ekonomiese en geestelike leierskap. Bestaan daar `n allesoorheersende drang om onberispelik moreel-eties op te tree en goed te doen? Sommige onder ons sal dadelik sê, nee. Hulle het moed opgegee met die land en sy leiers. Verlede week het ek die voorreg gehad om `n konferensie van ongeveer dertig kerkleiers van regoor Suid-Afrika, op Stellenbosch by te woon. Van die mees senior leierskap van al die grootste denominasies, asook enkele onafhanklike kerke, was verteenwoordig. Graag deel ek enkele gewaarwordinge en ervarings wat ek daar gehad het.
Dit was eerstens `n hoop- en energiegewende ervaring om hierdie leiers van soveel verskillende agtergronde saam te sien bid, dink en worstel oor die probleme van ons dag. Ek het opnuut besef: Die ekumene en eenheid onder Christene is `n ongelooflike geskenk van God. Ons moet dit koester.
Die teologiese denke in die groep was helder en op die punt af. Dit was aangrypend om aartsbiskop Thabo Makgoba `n roerende pleidooi te hoor lewer oor die voorbeeld wat Christus se inkarnasie, oftewel menswording, vir ons almal inhou. Kardinaal Wilfred Napier se oproep om die lewe in alle vorme as `n gawe van God te eerbiedig en te beskerm, het diep geroer.  Pastoor Ray McCauley se versoek dat daar `n helder visie vir leierskap vandag geformuleer word, het geïnspireer. Aartsbiskop Buti Tlhagale se ernstige vermaning oor die gebrek aan morele visie, morele korrupsie en gefragmenteerde geestelike leierskap, het ons diep laat dink. Die wyse waarop die oordenkings hanteer is, het getuig van `n diepe en egte verootmoediging voor God.
Daar is in die sterkste moontlike taal gepraat oor die katastrofe in Zimbabwe en die finale verklaring het gevra vir die bedanking van Robert Mugabe. Daar is ook gevra dat die Suid-Afrikaanse regering aan die proses onttrek indien hulle nie spoedig `n oplossing kan bemiddel nie. Daar is baie ernstig besin oor die komende verkiesing. Helder riglyne vir optrede tydens die verkiesings deur politici en ondersteuners is geformuleer. Ten slotte is diepe kommer uitgespreek oor die kultuur van vergelding en die spiraal van geweld in Gaza en omliggende streke wat soveel onskuldige slagoffers eis.
Uit ervaring weet ek dat sulke vergaderings en die daaropvolgende verklarings nie noodwendig die wêreld verander nie. Die hoop en energie vir die jaar wat ek met my uit die byeenkoms geneem het, is egter gebore uit dit wat ek ervaar het in die harte, gesindhede, en bereidwilligheid om vreesloos `n profetiese stem te wees en  morele rigting aan te toon.
Onlangs sê emeritus biskop Desmund Tutu dat, as hy nie elke dag genoegsame tyd met God deurbring nie, hy niks meer as `n “leë simbool” sal wees nie. Bid vir al ons geestelike leiers. Hulle kan en wil meer as leë simbole wees. Ek het genoeg gesien om dit glo, maar dit gaan meer vra as bloot menslike ondernemings. Ook hulle leef enkel en alleen uit God se genade.