{ARGIEF}

Die afgelope tyd het daar onstellende statistiek rakende geweld teen vroue die lig gesien. Tussen `n kwart en `n derde van Suid-Afrikaanse mans het erken dat hulle al hul vrou of vriendin geslaan het. Sommige krisisse het die manier om af te skuif op ons agendalys tot dit later van ons onmiddellike agenda verdwyn, terwyl die pyn en krisis nie minder is nie. Geweld teen vroue is een van daardie sake.
Daar is `n hele paar redes waarom daar weer padlangs oor hierdie onderwerp gepraat moet word. Geweld teen vroue is nie net geweld teen vroue nie, maar die trauma van kinders wat die getuies daarvan is, kan moeilik verwoord word. Swak konsentrasie in die klas, afwykende gedrag en bednatmaak is maar enkele simptomatiese gevolge. Dié geweld is ook nie altyd net fisies nie, maar kan intens emosioneel van aard wees. Wanneer `n pa op `n ma skreeu, word dit baie traumaties deur ma en kind ervaar. Dit laat  letsels, wat soms jare neem om te genees. Vir baie vroue wat slagoffers is van gesinsgeweld, is selfveragting en selfhaat die letsels waarvan hulle die moeilikste genees.  Die man wat slaan, vertel dikwels vir die vrou dat sy die houe verdien, dat “sy dit oor haarself gebring het”. Dit is onaanvaarbaar. Mans wat slaan, moet verantwoordelikheid aanvaar vir die geweld wat hulle pleeg en vir wat dit aan vroue doen.
Een van die groot probleme met geweld teen vroue is dat dit een van daardie euwels van ons samelewing is, wat agter “geslote deure” plaasvind en waaroor daar nie in goeie geselskap gepraat word nie. Daarmee saam vind daar vandag nog heelwat rasionalisering by mans daaroor plaas. “Ek was onder druk”, “Ons familie het maar `n bietjie van `n kort humeur”, “Vroue maak die lewe beslis nie vir ons mans altyd makliker nie.”
Kom ons sê dit duidelik vir mekaar. In `n samelewing wat deur hierdie probleem geteister word, kan daar beslis geen “neutrale omstanders” wees nie. Na `n besoek aan Zimbabwe het baie mense vir my gevra wat hulle aan die situasie kan doen. My antwoord was eenvoudig: Moenie stilbly nie. Behou jou sensitiwiteit vir die krisis. Moenie daaraan gewoond raak nie. Die lydendes kan nooit daaraan gewoond raak nie. Ek dink ons kan dit ook op gesinsgeweld van toepassing maak. Gesinsgeweld kan nooit `n private aangeleentheid wees nie.  Dit gaan oor onreg, `n onreg waarteen ons op grond van die Evangelie moet opstaan.
Wat kan ons doen? Sekerlik moet ons die moed hê om enige sodanige situasie waarvan ons bewus is, te help konfronteer. Daar moet `n vertroulike en veilige ondersteuningstelsel vir slagoffers wees. Terselfdertyd kan jy saam met my op jou knieë gaan en hard en ernstig bid vir al daardie anonieme moeders en kinders wat in vrees en stilte ly. As ek sien watter besondere hart Christus vir die vroue en kinders van Sy dag gehad het, behoort hierdie vir ons eintlik `n vanselfsprekende oefening te wees.