God sal nooit te veel van jou vra nie

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Was jy al ooit in ’n situasie waar jy met nood of seer gekonfronteer was, geweet het jy moet help, maar self so vuisvoos was dat jy net nie kon nie. Lewensdruk en soms net “te veel” bring jou by ’n punt waar jy net nie die energie en  krag het om te help nie. Dit kan selfs gebeur dat jy ’n irritasie ontwikkel vir die situasie wat na jou roep. Ek weet dit klink na ’n flou verskoning, maar ongelukkig gebeur dit.

Met die wêreldbeker wat nou vinnig nader kom, is die woord gasvryheid op almal se lippe, maar soms wonder ek hoe dit met gasvryheid in ons eie midde gaan. Eens op `n tyd was dit deel van die hartklop van al die gemeenskappe in ons land. Google jy vandag die woord “hospitality” dan sien jy dat dit steeds vrylik beskikbaar is, maar teen `n prys. Jy sien “gasvryheid” het soos die meeste dinge `n “bedryf” geword! Waar die woord Ubuntu ons nog `n paar jaar gelede gefassineer het, het die woord “xenophobie” nou in ons gedagtes kom woon.

Gasvryheid is `n eg Bybelse begrip. Wie vir `n oomblik teologies daarna  kyk, begin verstaan dat ware gasvryheid daar groei wanneer jy verstaan wie God is, hoe Sy hart klop en hoe Hy opereer. Gasvryheid is beslis nie net nog `n wet nie, dit is `n diep geestelike saak, wat blom in die lewe van Geesvervulde mense.

In `n moderne wêreld begin gasvryheid, soos gesê, `n al skaarser item word. Stephen Covey voer aan dat daar onder ons `n “skaarsheid mentaliteit” ontwikkel het. Miljoene mense wedywer om beperkte bronne, hetsy geld, grond, skoon water en veel meer. Dit maak ons angstig en laat ons eerder vashou as deel. Ek sê weer, gasvryheid groei wanneer  jy God se wese en hart beter leer ken. As Jesus sy eerste wonderteken doen dan maak Hy nie verniet 600 liter van die beste wyn nie. Hoekom? Omdat Hy ons iets wil leer van die heerlikheid (Joh 2:11) en oorvloed wat daar in Hom te vinde is.

Daar is egter ook iets anders wat ons moet raaksien. Dit bring my weer by die opmerking waarmee ek begin het. In `n moderne wêreld is dit nie net die bronne wat opraak nie, maar ook onsself en ons tyd wat opgeraak het. Uitgebrande, vuisvoos mense sukkel om gasvry te wees. Dit is sekerlik een van die grootste siektes van ons tyd. Daar is gewoon net nie meer energie oor om te gee nie.

Die hartseer is dat dit nie net  ons optrede teen mede-gelowiges en vreemdelinge raak nie, maar dikwels die mense baie naby aan ons. Jy sal sukkel om hulle seer en pyn raak te sien en daarop te reageer. Dit gebeur nie omdat ons nie wil nie, maar omdat ons gewoon nie meer kan nie.
Daarom die volgende. Vir lank het ek gedink dat dissipline en selfbestuur wesenlik belangrik is vir goeie leierskap en sukses in die lewe. Dit is ook. Vandag verstaan ek dat dit ook noodsaaklik is om `n volgeling van Christus te  wees, soos Hy dit bedoel het. Mag ons in die dae God se stem fyn hoor, veral om met die regte dinge besig te raak. God sal nooit te veel van jou vra nie. Veral nie op so `n manier dat daar niks oor is om aan ander te gee nie.

Trackback from your site.