{ARGIEF}

GROET IS `N GODSDIENSTIGE SAAK EN KOS NIKS

 

Rassisme maak ons land steeds baie seer. Die seer is nie net beperk tot die onmiddellike slagoffers nie en ook nie net tot een bevolkingsgroep nie. Veel meer mense ly daaronder as wat ons besef. Zelda Jongbloed vra in die verband na my mening uiters relevante vrae in die afgelope week se Maandag Aktueel (DB 24-11-08). Ek worstel self die afgelope tyd met twee vrae. Die eerste is: Waar lê die oorsprong van die kwaad wat mense so teenoor mekaar laat optree? Natuurlik is die antwoord nie enkelvoudig nie.  Eerlike diskoers in die verband is egter dringend nodig. As jy `n probleem wil oplos, moet jy tog die oorsprong daarvan bepaal. Die tweede vraag is of ek en jy intussen iets konkreets kan doen, al is dit ook hoe klein.

 

`n Kollega wys my onlangs daarop hoe belangrik dit vir Christus is dat ons nie net ons familie en vriende groet nie, maar veral ook vreemdelinge en selfs ons vyande. (Matt 5: 43-48) In `n land waarin ons baie brûe het om te bou, behoort ons almal ernstig daaroor na te dink of ons mekaar en veral vreemdelinge genoeg groet. Dit kos absoluut niks, maar kan `n verskil maak.

 

Wat doen ons as ons mekaar groet? In die eerste plek sê ons vir mekaar dat ons mekaar raaksien. Jy erken die ander se menswaardigheid. Jy sê daarmee dat jy sensitief is vir en  bewus is van die ander. In die tweede plek dra gelowiges met `n groet altyd iets van die Here se seën oor. Jy sê as gelowige vir die ander dat God ook vir hom of haar liefhet en proklameer so iets van die identiteit van die gemeenskap. In die derde plek sê jy daarmee oneindig baie van jou eie uitgesorteerdheid, al dan nie. Mense met `n gesonde selfbeeld groet. In die vierde plek bou jy daarmee emosionele brûe tussen mense.

 

Ek is self skuldig daaraan dat ek mense nie genoeg groet nie. Ek stap beslis soms verby mense sonder om behoorlik te groet. Soms herken of ken jy hulle  nie en soms is jy net ingedagte. Verder is sommige van ons maar skamerig en dink jy dat mense sal dink jy is half mallerig as jy links en regs begin groet. Hierdie kan egter nooit verskonings wees om dit nie  te doen nie.

 

Nou die middag hoor ek skielik daar by my in die woonbuurt hoe `n vrou van veraf roep: “Hallo dominee!” Toe ek omkyk, sien ek dis `n bruin vrou wat ek nie dadelik herken het nie. Onnodig om te sê, die vrolikheid en vriendelikheid waarmee sy gegroet het was een van die hoogtepunte van my dag. Jy sien, ons wil almal graag raakgesien word. Wanneer iemand jou so spontaan groet, weet jy dat dit gebeur het. Kom ons begin mekaar meer en vroliker groet. Mense sal jou soms snaaks aankyk, maar onthou, dit is`n diep godsdienstige opdrag van Christus self.