{ARGIEF}

Iemand vra my onlangs watter soort mense Suid-Afrika teen 2020 gaan produseer. Is Julius Malema inderdaad die prototipe? Ek het dadelik aan die woorde van Ralph Waldo Emerson gedink wat jare gelede al gesê het dat `n land se ware rykdom nie aan sy oeste, minerale, getalle of groot stede gemeet word nie, maar aan die soort mense wat deel is van daardie land. Die werklike rykdom van `n land vind ons in sy mense. Die vraag bly dan waar gaan ons teen 2020 wees? Kom ons teken vinnig twee scenario’s. Die eerste is die slegte een.
Stel jou voor `n land waar valse hoop oorgaan in wanhoop. Waar sporadiese konflik en geweld oorgaan in anargie. Waar die suspisie wat ons tans oral vind, oorgaan in totale gebrek aan vertroue (met vernietigende implikasies vir die ekonomie). Waar verval in moraliteit en korrupsie lei tot `n mislukte staat (sg. “failed state”). Waar krimpende bronne lei tot `n gebreksmentaliteit wat almal laat gryp na dit wat oorbly. Ons sou die lysie langer kon maak.
Stel jou aan die ander kant `n land voor waar mense lewe met hoop en energie, met toewyding en `n werksetiek. Waar wedersydse respek en menswaardigheid die norm is. Waar jong kinders weens die regte voeding, basiese onderrig en `n toepaslike onderwysstelsel voorberei word om deel te wees van `n kompeterende globale ekonomie. Waar meer en meer mense afskaal na `n volhoubare lewenstyl, vir hulself en die aarde wat ons bewoon. Die vraag is hoe op dees aarde gaan ons daar kom? Ek het in die verband vier wense, wat ek meen ons “sosiale vesel” teen 2020 deurslaggewend kan bepaal.
Heel mense word in geborge heel gemeenskappe gekweek. Mag ons `n weg vind om in dorpe en stede, in gesinne, in skole, in kerke, op treine en paaie, veilige gemeenskappe te bou waar ons kinders in geborgenheid kan ontwikkel.
Mag ons in die jare wat voorlê `n onderwysstelsel ontwikkel wat ons kinders se karakter ontwikkel en hulle veral leer om te dink! In die VSA beskik 80% van alle volwassenes oor `n Graad 12 en meerdere kwalifikasie. In Suid-Afrika beskik minder as 30%  volwassenes oor Graad 12. Dit gaan egter  oor meer as `n matrieksertifikaat. Mag hulle in die woorde van Martin Luther King (jnr)  beide karakter, asook die vermoë om te dink, ontwikkel. Mag dit hulle in staat stel om op kritiese wyse in gesprek te tree met die denksisteme wat tans die wՙêreld op soveel vlakke domineer.
Mag ons meer waarde-gedrewe geleenthede en kanse vir almal in die land skep. Toe geldelike hulp aan Afrika tussen 1970 en 2000 op die hoogste was, was die ekonomiese groeikoers op die laagste. Mense ontwikkel veral wanneer daar `n geleentheid is om self te ontwikkel.
Mag ons laastens `n geloof ontwikkel wat ons nie net Sondae in die kerk laat leef nie, maar van Maandag tot Saterdag in die wêreld. Hulle sê dat 75% van die land se mense “christene” is en meer as 80% “gelowiges” is. My vraag is watter soort spiritualiteit gaan ons teen 2020 hê? Met watter soort teologie gaan die meerderheid mense werk? Met watter soort wêreldbeeld gaan ons leef? Mag ons mense ontwikkel wat veral met ontsag voor God leef! Mag ons teen 2020 veel minder godsdiens en baie meer geloof hê, geloof wat verstaan wat `n ware, intieme, persoonlike verhouding met God beteken.