{ARGIEF}

Die afgelope tyd tel ek heelparty gesprekke en berigte op oor `n moontlike spanningsverhouding wat tussen kerk, geloof en wetenskap mag bestaan. Graag gooi ek sommer `n stuiwer in die armbeurs.
Dit lyk my (verskoon my as ek verkeerd is), asof die wetenskap deur sommige verabsoluteer word en min of geen ruimte laat vir die “bonatuurlike” en onverklaarbare nie. Daarom ook nie veel ruimte vir dit wat ek as GELOOF sou wou beskryf nie. Dit maak die gesprek natuurlik uit die staanspoor eintlik nie moontlik nie. Maar terwyl ons van die wetenskap praat. Juis die wetenskap en in die besonder die mikro-fisika, het my oë laat oopgaan vir die oneksakte en onvoorspelbare van die einste wetenskap waaroor ons praat. Dit het Max Planck se kwantum-teorie, Einstein se relatiwiteitsteorie, Schrödinger, De Broglie en Driac se golfmeganika en Heisenberg se kwantum-meganika ons kom leer. Die punt is dat juis die wetenskap die kousaliteitsbeginsel waarop so baie van ons vertrekpunte staan, hiermee kom relativeer het. Die ironie is dat juis die einste wetenskap nie klaar en finaal is nie. Dit is juis die wetenskap wat jou wys op die onvoorspelbare en die ondeurgrondelike! Dit mag dalk net wees dat ons in die toekoms ontdek dat die werklikheid waaroor ons vandag so “seker” is, eintlik maar `n baie “ plat” wêreld op broos “pilare” is. My vashou aan `n God wat groter is as die grense van die wetenskap, soos wat ons dit vandag ken, laat my veel eerder soos Galileo van ouds as die Pous voel. Laat ek dit egter weer sê. Daarmee staan ek nie teenoor die wetenskap nie. Ek dink ook nie dat die breë kerk dit wil doen nie. Dit sou dom wees. Ek dink dis `n wonderlike gawe uit die hand van God, maar dan dié God wat meer is en verder strek as die wetenskap soos wat ons dit met ons klein koppies beskryf.