{ARGIEF}

Die laaste klompie dae het ek self n blaaskans geneem, maar is terug in sirkulasie. `n Baie baie geseënde 2011 vir almal toegewens. Vandag plaas ek graag my artikel wat op 29 Desember 2010 in Die Burger in die rubriek Godsdiens Aktueel verskyn het:
Alhoewel WikiLeaks nog geen regering tot `n val gebring het nie, wil dit voorkom of Julian Assange die kat behoorlik in die hoederhok ingejaag het. Onwillekeurig vra `n mens jouself die vraag af wat hier aan die gang is? Is dit maar net nog `n bewys van hoe kragtig en selfs magtig die internet geword het? Is Assange werklik `n skurk? Swede wil hom blykbaar aankla vir seks-misdrywe. Of is dit bloot net een groot komplot om van die lastige mannetjie ontslae te raak? Ek het al `n paar keer verwys na die feit dat een van die grootste krisisse van ons dag nie die leuen is nie, maar die feit dat die waarheid en die leuen op `n subtiele wyse vermeng geraak het. Die ironie hier is dat `n mens nou wonder oor `n persoon wat daarop aanspraak maak dat hy die waarheid aan die wêreld sal verkondig. Al daardie “sappige geklassifiseerde stukkies inligting” wat van ons weggehou word, moet mos gehoor word. Is Assange die man wat daarvoor moet sorg?
Ek dink dat daar tog `n stukkie sielkunde agter hierdie beweging sit. Terloops, die tydskrif Time berig dat daar teen 8 Desember vanjaar reeds 1334 kleiner webwerwe was wat WikiLeaks se werk wou voortsit, nadat dit aan die lig gekom het dat daar pogings is om WikiLeaks toe te maak. Ek dink daar is ‘n groeiende suspisie by die gewone mens op straat dat ons deesdae ten beste maar met halwe waarhede tevrede moet wees. Ons wantrou die politici. Ai, as ons maar tog eendag die volle waarheid oor die wapenskandaal kan hoor! Ons wantrou die kerk. Ja, selfs dokters sê my dat hulle ervaar hoe hulle diagnoses al meer in twyfel getrek word. Jy sien, jy kan jou kwaal mos Google en self ook navorsing doen oor wat met jou verkeerd is. Mense wil in hierdie tyd van inligting weet. Hulle wil alles weet.
Daarom is dit vir gelowiges soms ongelooflik ontredderend as hulle `n boodskap moet hoor wat sê: Ons weet nie alles nie. Ons het nie antwoorde oor hoekom ons geliefdes aan kanker moet sterf nie. Ons weet beslis nie alles oor God nie. Ons kan arrogante uitsprake oor God maak, maar dit kan niks aan God verander nie. Hy bly die Ondeurgrondelike. Ons sien inderdaad nog maar deur `n spieël in `n raaisel.
En nou lê 2010 op sy rug. Ek weet nie hoe jy die jaar beleef het nie. Dalk het 2010 meer vrae as antwoorde by jou geskep. Dalk is daar na die jaar meer dinge waaroor jy twyfel as ooit te vore. Wel, ek het `n Nuwejaarswens.
Ek glo dat daar `n Lig is wat ons, ons denke, en die wêreld wil verlig en vrede gee. (Joh 1: 9) Daarom kon die Psalmdigter reeds uitroep: “In U lig sien ons die lig.” (Ps 36:10 – 1933 vertaling) Dit skyn in die duisternis en oorwin dit. (Joh.1:4) Daar kom ook `n dag waar alles, maar alles, aan die lig sal kom, ook dit wat WikiLeaks nie kon uitsnuffel nie. Sommige vrees dit. Ander kan nie wag daarvoor nie. Hierdie Lig vul ons met wysheid, insig en aanvoeling. Dit gee veral vir ons `n aanvoeling vir die waarheid en wys ons op die leuen. My gebed vir 2011? Mag dit `n jaar vol Lig wees. Mag ons sien en weet en op `n ligte manier in die Lig lewe.