{ARGIEF}

Verlede week beland ek op ’n vliegtuig langs ’n Israeli wat geruime tyd reeds in Suid-Afrika woon. Hy is besig om ’n spanningsverhaal te lees oor moderne Israel. Dit is in Hebreeus geskryf, nes ons op kweekskool geleer het, van agter na voor en regs na links. Die voorblad is die agterblad en ek is dadelik geïnteresseerd. Ons begin gesels oor Israel en ek vra hom half moedeloos, waarom daar nie tog maar `n versoeningspad soos in Suid-Afrika geloop kan word nie. Later praat ons egter oor Israel se kibboetse en ek begin wonder: Het ons nie dalk baie daarvan in Suid-Afrika nodig nie?
Kibboetse is destyds begin as gemeenskappies wat op plase saam gewoon en gewerk het en so, nie net ’n bestaan gemaak het nie, maar eintlik met groot dissipline en harde werk ’n nuwe gemeenskap help bou het. Vandag is daar meer as 270 sulke gemeenskappe, wat nie net uit landbou ’n bestaan maak nie, maar sommige ook uit hoogs tegnologiese industrieë.
Die navorsing wat ons die afgelope tyd oor armoede in Suid-Afrika gedoen het, wys dat armoede veral vier oorsake het. Eerstens is daar is die ekonomiese stelsels waaroor ekonome en politici stry. Tweedens is daar ons gebrekkige onderwys. Derdens word armoede dikwels in die denke van mense gebore. ’n Slagoffermentaliteit of ’n sogenaamde armoede kultuur ontstaan dan. Hoop-loosheid is een van die belangrikste simptome en mense gly so al dieper in die put. Gebrekkige waardes is die vierde pilaar. Korrupsie en ’n gebrek aan werksetiek gedy in so ’n omgewing. Ons sien dit oral om ons.
Natuurlik sal ’n kibboets-stelsel vir Suid-Afrika verinheems moet word en baie belangrik, daar sal gewaak moet word teen eksklusiewe, sektariese gemeenskappies waarbinne ideologiese virusse so maklik gedy. Tog meen ek dat al vier genoemde uitdagings in so ’n stelsel aangespreek kan word. Die konsep is ook nie heeltemal nuut aan ons land nie. In die dertiger jare het die kerk na die Carnegie-verslag ’n aantal werkskolonies gestig, wat `n groot impak op armoede gemaak het.
Dalk moet die kerk dit weer doen. Die keer mag dit nie net vir `n bepaalde rassegroep wees nie, maar behoort ware inklusiewe gemeenskappe gestig te word. Ek droom van ’n plaas of twee as loodsprojekte waar mense saam woon en werk. Waardes behoort duidelik uitgespel te word en die kinders sal nie wonder of daar vanaand kos op die tafel is nie. As die kerk dit doen, sal ons nie skaam wees om dit vanuit ons geloof te doen nie. Daar sal dus goeie Hulp beskikbaar wees. Ek glo dat so `n droom met goeie bestuur en leierskap wel moontlik is. Die kinders kan geleer word en dié wat hard wil werk, sal ’n tuiste hê. Wie weet, dalk oortuig ons die regering om dit ook met van hul onbenutte grond te doen. Maar iemand moet die weg wys. Jy sien, wie armoede probeer verlig sonder om ’n nuwe gemeenskap te bou, bou maar ’n mankoliekige huis.