{ARGIEF}

Persberigte oor gebeure in die kerk die afgelope tyd het `n warboel en `n verskeidenheid van emosies by lidmate losgemaak. Verskil in mening oor sake en hoe die pad vorentoe moet lyk, duik oral op. Daar is onsekerheid by baie mense. Die beeld van die kerk het seergekry. Eenheid binne die kerk is broos. Dit alles gebeur terwyl die nasionale en internasionale situasie, ekonomies, sosiaal-maatskaplik en polities, ewe onseker is. Die vraag is hoe die pad vorentoe lyk? Mag ek een baie eenvoudige voorstel maak: Die kerk van Christus behoort die oer- en kernbelydenis van die kerk doodernstig te neem en helder in die dae te bely en te lééf. Jesus Christus is die Heer!
Laat ek eerlik wees. Daar was `n tyd in my lewe toe ek die belydenis as waar geag het, maar dit op die ou end vir my maar net nog `n mooi teologiese formulering was. Vandag verstaan ek van watter kardinale belang hierdie belydenis vir enige kerk is wat daarop aanspraak maak dat dit `n Christelike kerk is. Vir die vroeë Christene was dit nie net nog `n belydenis nie. Dit was hul anker, hul hoop, byna `n mantra wat hul die krag gegee het om aan te gaan te midde van ongelooflike aanvegtinge. Ek meen dat `n vars en nuwe aanvaarding van hierdie belydenis ons op geweldig baie punte kan help.
Terwyl ons in `n diverse wêreld met baie verskillende godsdienste leef het ons natuurlik `n verantwoordelikheid om met liefde na alle mense uit te reik. Ook mense van ander gelowe is tog mede-skepsels van God. Hierdie belydenis hef egter alle onsekerheid op oor wat ons oor die godedom glo. Jesus Christus is die Heer!
Terwyl ons wonder of sommige belydenisse onder ons polities van aard is of nie, is daar een belydenis waaroor ons nie hoef te twyfel nie. Dit het `n intense politieke betekenis. Jesus Christus is die Kurios, die Here, Koning van die konings.
Terwyl ons stry oor etiese kwessies wat dreig om die kerk in die middel deur te skeur, is daar een belydenis wat te midde van alles verenig. Daar is net een Here, Christus die Here.
Terwyl ons wonder oor die kontekstuele aard van gereformeerde belydenisse en bely dat almal `n historiese kontekstualiteit het, is daar een belydenis wat werklik  geldig is vir alle tye. Jesus Christus is gister en vandag en tot in alle ewigheid dieselfde. Hy is en bly en sal altyd die Here wees.
Terwyl gewone lidmate verward staan tussen die uitsprake van ou (tradisionele) en nuwe hervormers is daar een belydenis wat hierdie komplekse argumentasie, vreeslik eenvoudig antwoord: Jesus Christus is die Heer. Dit bely jy natuurlik moeilik as jy glo dat Hy net maar nog `n mens was en nooit werklik uit die dood opgestaan het nie.
Terwyl sommige beweer dat ons op die vooraand staan van die einde van `n tydvak in die geskiedenis, die einde van `n era, soos ons dit leer ken het, weerklink die belydenis van Petrus helder in ons ore. Christus is die Here! Hy is ewig die Here van alle eras.
Terwyl sommige mense sê dat die kerk wankel op die rand van `n afgrond, weet ek verseker dat ons, ook as kerk nie aan onsself behoort nie, maar aan dié Here.
Soos in die eerste dae sal die kerk nie gebou word op eie planne nie, maar veral op hierdie rots, hierdie belydenis.
Miskien is dit eerste tree op die pad vorentoe vir ons, om hierdie belydenis met ons hele lewe opnuut te bely en te lééf. Ek glo dit is waar. Dit is hoe ware volhoubare lewe en vernuwing sal begin en ook stewig in geanker sal wees. As ons dit doen, regtig met ons hele wese doen, sal ons ook eerlik en verantwoordelik kan wees in ons beoordeling van alle ander belydenisse wat op ons tafel mag beland.