{ARGIEF}

Die afgelope tyd het getalle `n groot rol in die gemoed van baie Suid-Afrikaners gespeel. In `n verkiesing gaan dit immers oor getalle en persentasies. Die uitslae het `n invloed op mense. Die mistroostige brief in `n Sondagkoerant die naweek, van `n leser wat gemeen het die ANC gaan `n tweederde meerderheid kry, is maar `n enkele bewys hiervan.  Ekself het die uitslae van vroegdag tot laataand gevolg omdat dit inderdaad op `n manier die kontoere van ons veranderende samelewing definieer.
Daar is egter ook ander getalle waaroor daar gerapporteer is. Vooraf is gespekuleer oor hoeveel mense by die Mighty Men-saamtrek sou opdaag. Dit is noodwendig so dat die belangstelling wat die byeenkoms by die media gaande maak, onder andere verband hou met die duisende wat dit bygewoon het.
Ander getalle wat my aandag getrek het en wat dalk by die meeste Suid-Afrikaners verbygegaan het, is die “skuldmeter” wat SKY TV soms vertoon, wat vir jou wys hoe die skuld van die Britse regering by die minuut vermeerder. Toe ek `n week of wat gelede gekyk het, was dit om en by 200 miljoen pond per dag! In Desember 2008 het die Britse regering se skuld reeds meer as 750 biljoen pond beloop.  Indien hul nuwe begroting en gepaardgaande lenings goedgekeur word, sal dit teen 2013/2014 1,370 biljoen pond beloop. Wie hierdie rekening gaan betaal weet niemand nie, maar dit verbaas `n mens nie dat belastingkoerse in Brittanje onlangs na 50% verhoog is nie. Naas sommige van ons Super-14 uitslae, is dit nou `n syfer wat jou mismoedig kan laat.
Gelowiges moet hulself egter die vraag afvra of hierdie persentasies en getalle allesbepalend is. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek dink dit is ontsaglik belangrik, maar ek meen as gelowige dat daar ander persentasies is wat op die ou end van groter belang is. So byvoorbeeld die persentasie steun wat God van jou verkry. 2 Kron 16:9 stel dit mooi: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy die kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” Die belangrike woorde hier is “hele hart”. Wie daardie geskiedenis ken, sal weet dat dit gegaan het oor `n goeie koning, wat mooi godsdienstige hervormings ingebring het, maar op die kritiese oomblik meer bekommerd was oor verdrae en koalisies as oor sy vertroue op God. Sy einde was nie goed nie.
Koning Dawid het in die moeilikheid by God beland omdat hy die volk laat tel het. (2 Sam. 24). By `n vinnige lees van die verhaal, wonder `n mens wat die probleem was, aangesien Dawid maar net `n sensus gehou het. Wie fyn daarna kyk, sal sien dat daar in Dawid se hart `n verandering plaasgevind het. Sy fokus was nou anders. Op `n tyd was `n slingervel, `n paar klippies en sy vertroue op God vir hom genoeg. Nou wou hy weet hoeveel mense hy agter hom het.
Om te groei as gelowige beteken nie altyd dat ek vromer word nie. Ek sukkel self maar baie daarmee. Dit beteken dat ek groei in afhanklikheid, oorgawe en vertroue. Dit is genade. Saam met die klipharde werk wat vir ons almal voorlê in die land, het ons dit veral nodig.