{ARGIEF}

Twee weke gelede het `n paar moderatuurslede van die VGK, NGK en RCA, kollegas van die Nkhoma- en Blantyre-sinodes , asook die IRM  te Milanje in Mosambiek besoek. Ook gemeentes in die diep platteland is besoek. `n Paar onuitwisbare indrukke het vasgesteek. Predikante verdien so min as  R300 per maand, maar bedien uitgestrekte gemeentes van tot 200 km per fiets. Op Sondae staan daar nie motors om die kerkies nie, maar fietse en dalk `n motorfiets of twee. Die totale kollekte beloop dan R30. Die gevolge van die oorlog in Mosambiek is oral te sien. Jy sien dit in mense se oë. “Hier is dan nie ou mense nie”, merk `n kollega op. Ja, dis reg, die meeste  is in die oorlog dood of aan VIGS of malaria. By die Nkhoma-hospitaal in Malawi sê Dr. Ter Haar dat 50% van die kinders in die omgewing aan wanvoeding ly. My VGK- kollegas merk geskok op dat die armoede hier veel erger is as enigiets wat hulle in Suid-Afrika gesien het. Hoe dan anders in `n land waar meer as 50% van die begroting uit buitelandse skenkings bestaan.
Jy ry deur die land en dan tref dit jou. Die klein kolletjies digte bos is waar die begraafplase is. Dis hoe Afrika eens gelyk het. Die res is kaal. Die vernaamste kragbron in die platteland is steeds die eens glorieryke bome wat afgekap word. Skielik kry “ontbossing” en “aardverwarming” vir jou nog `n nuwe betekenis.
En tog is daar `n ander kant. In die gemeente in Lilongwe waar ons oorbly, word ek uitgenooi na `n gebedsbyeenkoms. Dit vind elke oggend halfvyf plaas, Maandag tot Saterdag en meer as 200 mense daag op. Sondag stry die vyftien kore in die gemeente van 2000 wie gaan sing. “The people are hungry for the Word of God”, merk die leraar op. Hier het mense gehoor van die credit crunch, maar ervaar dit nog nie, want sien, daar is nie veel wat kan “crunch” nie.
Met hierdie beelde en veel meer, land ek Vrydagaand in Johannesburg. Ek onthou die gesigte van  mense wat singend, biddend en met vreugde voor God dans. Ek besef dat ek geloof sien blom het binne `n armoede wat jou tot in jou siel ruk.
Saterdagoggend is ek deel van `n groepie  kerkleiers wat vir president Zuma hier in Kaapstad ontmoet. Die groot uitdaging sê hy is die kloof tussen rykdom en armoede.  Jy’s absoluut reg, Meneer die president, dink ek. Suid-Afrika beklee nou die eerste plek in die wêreld wat dit betref. Ons het Brasilië onttroon. Stilweg wens ek egter dat ek sommer baie lank met hom kan gesels oor die uitdagings van Afrika en `n nuwe stryd wat om die siel van Afrika aan die gang is. Dit is `n stryd waarin geld `n groot rol speel. Dit is `n drama vol duur hotelle en motors. Dit is egter ook `n drama waarin mense wat nevirapien ontvang, dit soms vir hulle hoenders voer sodat dié tog vinniger kan groei en hulle net iets te ete kan kry. Dit is`n stryd tussen wanhoop, valse hoop en ware hoop.
Sondag staan ek op die kansel in Stellenberg. Ek is lief vir my gemeente, maar my gemoed skied vol. Ek kan die gesigte van my mede-gelowiges in Afrika net nie vergeet nie. Hulle inspireer my om versigtig en bitter laag te buig in dankbaarheid en aanbidding.