{ARGIEF}

Romeine 8:28: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerkvir dié wat Hom liefhet…”
Die afgelope week was ek in `n vergadering waar ons baie eerlik en deeglik na van die doen en late van die kerk gekyk het. Onder andere is daar ook gekyk na die ongelooflike belofte wat God self in Eseg. 47 gee (doen moeite en gaan lees dit gerus) oor die stroom water wat al dieper en breër, uit sy Heiligdom vloei om die “Dooie See” weer vars te maak. Natuurlik het ons hier met ryke beeldspraak te doen en moet `n mens baie versigtig wees om direkte en letterlike toepassings te maak. Tog is daar een ding wat ons nie kan wegredeneer nie. God self gee aan ons beloftes wat groter en ryker is as wat ons self kan bedink. Dit is nie net waar van die kerk nie, maar ook van ons eie lewe.
In my eie lewe het ek oor en oor geleer dat die mooiste dinge wat met my gebeur het nie self beplan is nie, maar “onverwags” uit God se hand gekom het. Ja God is en bly `n verrassende God. Dinge gebeur nie altyd soos ons dit beplan nie, maar meestel groter as wat ons kan bid of dink. Jy moet Hom net toelaat om werklik God in jou lewe te wees. Dalk `n goeie week die een om jouself weer oor te gee en Hom `n kans te gee om dit te doen.
God wil die hele tyd die werklik goeie dinge vir ons gee, maar ons hande is te vol van ander dinge om dit te ontvang – Augustinus