{ARGIEF}

Daar het vandag in Rapport `n artikel verskyn wat beweer dat die NGK verlede jaar meer as 10 000 lidmate verloor het en die afgelope twee dekades 23% van haar lidmate. (Tans 1.1 miljoen) So `n berig laat natuurlik die wenkbroue lig. Persoonlik vra ek al lankal dat `n behoorlike ondersoek oor getalle en demografiese verskuiwings in die kerk gedoen word. Feite en `n duidelike teken van die werklikheid is nie jou vyand nie. “Feite is jou vriende!”, het Bill Hybels gesê. Maar dan moet jy eerlik en behoorlik na die regte statistiek kyk. Wie het nou weer gesê?: “Daar is leuens, vieslike leuens en statistiek!”
Dan is die vraag natuurlik wat die werklike redes vir die daling is?
Is dit omdat die kerk te konserwatief is of omdat die kerk te liberaal is?
Is dit omdat die kerk te uit pas of irrelevant is?
Is dit omdat mense net op `n ander manier kerk ervaar en by kerke betrokke is?
Is dit omdat die kerk dalk haar kern boodskap en missie verloor het?
Is die mense oorsee, na ander meer charismatiese kerke of sommer net “weg”?
Is dit oor grootdoop of kleindoop of Belhar?
Omdat die kerk te pro- of te anti-gay is?
Preek ons te vrot of is dit omdat ons nie meer huisbesoek doen nie?
Het ons musikale finesse verloor?
Of is dit omdat ons die Here nie meer so lief soos voorheen het nie en die “lamp” (Openbaring 2) nou weggeneem word?
Is dit net omdat `n nuwe geslag hulle nie meer aan lidmaatregisters steur nie?
Sekerlik is daar meer as een antwoord. Maar daar is nog iets, belangriker as die getalle op die boeke van die kerk. Daar is sekerlik ook ander vrae wat beantwoord moet word.
Hoeveel groei en geestelike groei het daar die afgelope twee dekades plaasgevind?
Hoeveel ware dissipels is daar?
Hoeveel geestelike leiers is daar en hoeveel is opgelei?
Met ander woorde, nie wat is die kwantiteit van ons lidmate nie, maar wat is die kwaliteit? Dit is `n veel ernstiger en dringender vraag.