{ARGIEF}

Soms raak `n sokkerwedstryd vir my net te veel en terwyl miljoene vasgenael sit en kyk hoe Nederland en Brasilië dit uitwoed om `n plek in die halfeinstryd van die WB stap ek straataf. Hier en daar hoor jy in die verte Vuvuzelas blaas. Die tarentale is egter min gepla. Die laatmiddag is verruklik mooi met die Bolandse berge wat lui lê in die winterson op die windstil dag… En ek dink aan Eckart Tolle se boek, The Power of Now. Ek dink aan die krag wat daar lê in die viering van die oomblik. Ek dink aan Christus se vermaning om ons nie oor môre te bekommer nie en saam met die voëls van die veld die oomblik te vier. Ek stap stadig staataf en ruik die amper soet winterlug en weet daar is geen ander oomblik om te leef as die een nie. Daar is niks wat bestaan anders as dit wat nou betsaan nie. Daar is geen ander God in wie ek vrede en rus vind as Hom wat my hier en nou, opnuut aan my openbaar nie.