{ARGIEF}

Gaan die Kersfees anders wees?
Is daar koelte onder `n kersboom
en stilte in `n stal?

Is daar vreugde in geskenkpapier
en vervulling in `n maal?

So soek en skrop ek jare al
elk Kersfees na geluk

`n Dieper vreugde wat bly ontwyk
as ek dit self wil pluk

Mag die Kersfees anders wees
mag ek ander vreugdes vind

Mag stille vrede my vervul
in die neerkniel by die Kind

Die Kersfees is ek tuis… in my gemeente, saam met die wat tuis gebly het en natuurlik die honde en katte. Ons het `n sangdiens op Oukersaand. Drie Kersdienste op Kersdag. `n Doop Sondag die 26ste en selfs `n aandiens. Daar sal seker net `n paar mense wees, maar dis reg so. Ons gaan tog soontoe oor Hom!
Ek dink aan die gesinne hier in die gemeente vir wie Kersfees anders gaan wees, omdat van hul geliefdes swaar gebuk gaan onder kanker en ander lyding… Ek bid vir julle.
Die buurt is stiller. Daar het vanoggend `n somerreëntjie uitgesak. Die koelte is wonderlik. Ek sien uit na die Kersfees.
As jy hier lees wens ek jou `n baie baie geseënde Kersfees toe. Mag `n diep vrede en vreugde jou vul.