{ARGIEF}

Verlede week is `n familielid van `n kollega in die vroeë oggendure in sy huis aangeval en vyftien keer met `n mes gesteek. Dit was `n inbraak wat sleg skeefgeloop het. Die vraag wat in my kop bly draai het, is hoekom? Wat laat `n mens dit doen? Ek het myself betrap dat ek eers baie kwaad geword het, toe hartseer geword het en toe in `n diep nadenke verval het. Waar stop dit? Wanneer stop dit? Wie gaan dit stop? Hoe gaan dit stop? Ek het begin dink oor die vyftien messteke en gewonder hoekom soveel keer?
Die eerste steek was dalk omdat die man honger was en kos gesoek het. Die tweede steek was dalk omdat hy arm is en in `n land woon waar die verskil tussen rykdom en armoede so groot is dat hy die gedurige herinnering daaraan nie meer kan hanteer nie. Die derde steek was dalk omdat hy baie kwaad en bitter is oor die verlede en dit op sy slagoffer wou uithaal. Die vierde was moontlik omdat hy dronk was. Die vyfde omdat hy vol tik was. Die sesde messteek kon wees omdat hy aan dwelms verslaaf is en ten alle koste geld in die hande moes kry. Die sewende steek was dalk omdat hy sonder ouers groot geword het wat hom moes leer onderskei tussen reg en verkeerd. Die agste steek kon wees omdat dat hy in `n gemeenskap groot geword het waar hy net te dikwels gesien het hoe mense mekaar met messe steek en geweld eintlik iets alledaags was. Die negende steek was dalk omdat hy weet dat die kans dat hy gevang sal word, maar skraal is. Die tiende steek was moontlik omdat hy bang en bedreig gevoel het. Dalk was die elfde steek omdat hy vir sy mede-bendelede wou wys dat hy nie bang is nie en die twaalfde steek omdat hy gedink het dat van die leiers in die land eintlik in die tronk moet sit, maar na hul misdade steeds vry rondloop. Die dertiende steek kon wees omdat hy nooit geleer het om die lewe van ander te respekteer nie, die veertiende steek omdat `n Bose mag hom gedwing het om dit te doen en die vyftiende steek omdat hy nie die Here ken nie.
Die vraag bly egter waar dié soort gebeure gaan stop?
Ek dink ons almal sal, beginnende by onsself, moet begin om die waardes van ons land stukkie vir stukkie te herbou. Dit is al baie gesê. Gewone burgers en leiers sal veel meer vir mekaar se pyn en nood – veral oor die kleurgrens, moet intree. Kerkleiers sal moet hande vat en alle owerhede wat `n verskil kan maak, konfronteer of ondersteun, afhangende van wat waar nodig is. En ons sal in die grootste moontlike afhanklikheid op ons knieë moet gaan en om genade pleit. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie…. (Ef.6). Paulus het dit jare gelede al goed verstaan.