{ARGIEF}

Om oor “ware en egte vrede” binne die bestek van `n paar woorde iets sinvol te skryf, is moeilik. Daarom het ek dit goed gedink om doodeenvoudig `n paar stellings en aanhalings op die tafel te sit wat hopelik verdere gedagtes en gesprek sal stimuleer:
Daar is `n wesenlike verskil tussen die vrede wat die wêreld probeer bewerkstellig en die vrede wat God in Christus bring. Dit geld vir die “wêreld” in ons en om ons. Die lewe raak draaglik wanneer die vrede in ons groter is, as die storms om ons. Vrede beteken daarom nie noodwendig die afwesigheid van probleme nie, maar die oorwinnende teenwoordigheid van God in ons lewe.
Ware vrede – soos beskryf deur die oorspronlike Ou Testamentiese term “sjalom” veronderstel `n omvattende vrede, wat ook konsepte soos heling, balans, sinergie, versoening, geregtigheid en veel meer insluit. Dit moet ook op verskillende vlakke gestalte aanneem. Hier dink ons aan die persoonlike-emosionele, sosiaal-maatskaplike, politiese-, ekonomiese- en bowe-al geestelike dimensies van ons samelewing en menswees.
Daar is dus `n besliste verskil tussen `n goedkoop, valse, vrede en `n duur, egte, volhoubare vrede, wat, gebou is op eerlikheid, ware konsekwente geregtigheid, liefde, wedersydse aanvaarding en vergifnis. Laasgenoemde, so glo ek, bly `n gawe van die Heilige Gees.
Vrede bring vryheid, maar vryheid beteken nie noodwendig vrede nie. Vryheid wat nie ingebed is in dissipline en morele waardes nie, is gedoem tot `n nuwe vorm van slawerny en konflik.
Konflik en onvrede is een van die logiese gevolge van swak en integriteitslose leierskap. Dit gaan onmoontlik wees om volhoubare vrede in ons land te skep indien ons leiers nie tot verantwoording geroep word nie. Die huidige hebsug, gierigheid en begeerte na mag, wat gepaard gaan met korrupsie, `n gebrek aan dissipline, `n gebrek aan werksetiek en morele vesel, vernietig vrede.
Daar is `n verskil tussen vredemakers en vredeliewende mense. Vredemakers gaan na die konflik toe. Hulle wens dit nie weg nie, want dit werk gewoonlik nie. Hulle aanvaar realiteite en gee hul tyd en energie om konflik te help oplos, al vra dit `n prys.
Vrede groei ook daar waar mense `n gesamentlike doel en strewe ontwikkel. Waar sektoriese belange bly domineer, sal vrede moeilik groei. Vrede groei daar waar mense werklik in mekaar se skoene probeer staan.
John F. Kennedy het by geleentheid gesê dat as ons nie die konflik (“oorlog”) beëindig nie, die konflik ons einde gaan beteken. Die geskiedenis bewys dit. Ek is absoluut oortuig daarvan dat ons inderdaad al nader aan `n nuwe breekpunt en kruispad in Suid-Afrika kom. Emosies onder die oppervlak is besig om by die dag al hewiger te word. Kom ons neem hierdie emosies oor die hele spektrum van landsburgers ernstig, maar buig voor en bid tot God om werklik van my en jou vredemakers te maak.
Wanneer mense werklik nader aan die kruis van Christus beweeg sal hulle noodwendig ook nader aan mekaar beweeg. Vrede kan nie bloot vergeestelik word nie, maar ek glo opreg dat Christus die sleutel tot ware vrede is.