W oensdag 28 November: `n Moeë November en `n Somerkersfees: Die Burger Godsdiens Aktueel

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

In Novembermaand sit ons gewoonlik met `n land vol moeë en geïrriteerde mense. Ons is minder geduldig en raak vinniger kwaad. Teen Januarie voel die meeste mense na ’n breek gewoonlik beter en gaan dit beter met ons. Maar eers moet ons deur November kom. Wanneer ons moeg is, word ons ook makliker moedeloos. Die probleem is op die oomblik dat daar genoeg dinge in die weer is om ons in elk geval moedeloos te maak. Daar is die wêreldekonomie, die petrolprys, stakings en arbeidsonrus, ‘n wankelende betalingsbalans, `n mankolieke onderwysstelsel, `n groeiende gebrek aan vertroue, verhoudinge wat seergekry het, ’n wantroue in ons leierskap en “profete” wat aankondig dat die einde van die wêreld op hande is. Jy sou die lysie dalk op persoonlike vlak self veel langer kon maak. As ons egter moeg is, voel alles erger.
Iemand het vroeër in die jaar vir my gesê dat ons ons sitplekgordels moet vasmaak. Die pad na Mangaung gaan vol klippe wees. Ek het nie geweet dit gaan letterlik so wees nie. Tussen alles deur moet ons realisties bly en eerlik met onsself wees. Nou-die aand sê iemand by `n kerkraadsvergadering in `n gesprek oor hoop dat dit vir hom voel of ons onsself soms vrolik lieg!
Daar is egter ’n ander kant waaraan ons onsself in dié dae moet bly herinner. Noem dit maar die takkie in die duif se bek. Dit is die takkie wat Noag jare gelede opgemerk het en besef het dat daar tog in die wye oseaan om hom ‘n stukkie droë grond moet wees.
Die afgelope weke het ek tog `n paar sulke takkies raakgesien:
`n E-pos doen die rondte van `n saal vol produsente en arbeiders wat saam sit en bid vir vrede. Daar was die kalm, beredeneerde gesprekke van kerkleiers wat nagenoeg `n honderdduisend mense in die Wes-Kaap verteenwoordig. Die gesprekke was nie langs kleurgrense verdeel is nie. Dan was daar die berig oor ’n paar bruin seuntjies wat na die onrus die gemors in Bonnievale se strate op hul eie begin opruim omdat hulle sê dat hulle nie wil hê dat hulle dorp so lyk nie.
En dan is daar die wete dat ons oor `n week met Adventstyd begin. Gaan dit `n Somerkersfees wees? Gaan Mangaung dit verhoed? Gaan daar nog arbeidsonrus wees? Gaan die situasie in die Midde-Ooste ontplof? Ek weet nie. Wat ek wel weet, is dat die profete van ouds vertel van `n volk wat in groot donkerte geleef het en `n Lig gesien het. Dit het in `n donker tyd ingebreek en onverwags en teen alle redelikheid in die geskiedenis kom herskryf. Die Kind in die krip was nie die antwoord wat die wêreld verwag het nie, maar Hy het `n nuwe weg kom wys.
Die profeet Jesaja het al gesê: sien asb. die takkie raak wat uit die oënskynlike droë stomp spruit. Skep moed, skep asem en gaan lewe vandag met hierdie fokus.

Trackback from your site.