{ARGIEF}

Verlede week het die eerste regte groot koue fronte van die winter ons getref. Tog was dit nie al koue waaroor berig is nie. `n Opskrif in die Sake Burger het `n andersoortige koue rilling by my veroorsaak: “Koue wind waai in April.” Baie slegte ekonomiese groeisyfers uit die verskillende streke van ons land, was verantwoordelik daarvoor. Die vraag waaroor ekonome nou meermale bespiegel, is of daar nie inderdaad `n lang en koue winter vir die wêreld op pad is nie? Die eerste fronte het ons immers al getref. Daar was die resessie van 2008. Die huidige krisis in Europa is nog met ons en nou word gewaarsku dat China sy groeimodel sal moet aanpas om volhoubaar te wees. Indië het onlangs die laagste groeisyfers sedert 2003 aangekondig. Beteken dit alles dat ons ons moet regmaak vir nog groot koue?
Anders gestel. Is daar `n tyd op pad, amper soos die Middeleeue was, waar die rykes in groot kastele wegkruip, terwyl die armes mekaar uitroei in `n poging om skaars middele in die hande te kry? Logika en rede kwyn in so `n tyd en oorlewing word die wagwoord. Alreeds sien ons dat baie welsynsorganisasies se begrotings onder groot druk is. Die oorvloed van groeitye is net nie meer daar nie. Ja, in “wintertye” is dit altyd die armes wat die swaarste kry. Die vraag is wat `n mens in so `n winter doen en wat gelowiges behoort te doen?
Die eerste is `n natuurlike reaksie. Jy trek terug in die veiligheid en snoesigheid van jou eie huis. Jy steek die vuur aan en sorg vir jouself. Die tweede is `n verantwoordelike reaksie. Jy beplan en beplan goed. Jy leef sober en eenvoudig en beplan vir die lang winter. Selfs die eekorinkies is slim genoeg om akkers bymekaar te maak.Wintertye is ook snoeityd. Jy snoei met `n plan en maak skoon sodat daar genoeg plek vir groei in die lente sal wees. Die derde is `n prysenswaardige, menslike reaksie. Jy verhoog jou sensitiwiteit vir die armes. Jy raak meer bewus van hulle en dink oor hulle. Jy ry verby iemand wat in `n vullisdrom krap en jou maag gee `n ekstra draai. Die vierde, so wys die statistieke, is die reaksie van die minderheid. Jy doen meer as die eerste drie reaksies. Jy doen iets! Dit mag klein wees, maar jy doen iets.
Dit is al meermale gesê. `n Land word nie gered deur een of twee groot wonderwerke nie, maar deur `n omgee-kultuur van duisende mense wat stukkie vir stukkie, met oënskynlik onbenullige klein dade `n groot verskil maak.
Winters is nie net sleg nie. Ons het hulle nodig. Selfs ekonomieë moet soms afkoel. Daar is in die woorde van N.P. van Wyk Louw, `n vreemde rykdom opgesluit in wintertye se stille rus en geheimenisvolle groei. Dit vra egter geduld en wysheid om daardeur te kom. Mag ons inderdaad deur Sy Gees groei in wysheid en aanvoeling om dit hierdie winter met waardigheid reg te kry.