Woensdag 1 Desember: Godsdiens Aktueel- Die Burger: Wat sal ons verenig?

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Na John Hinckley se sluipmoord aanval op Ronald Reagan in 1981 het die volgende gebeure hul blykbaar op en om die operasietafel afgespeel. Net voor die dokters narkose toegedien het en die chirurg desperaat na die koeël, wat naby sy hart vasgesit het, begin soek het, het Reagan orent gebeur en gesê: “Ek hoop nie hier is enige Demokrate in die teater vandag nie.” Die chirurg, ’n stoere Demokraat, het geglimlag en geantwoord: “Vandag, Mnr. die President, is ons almal Republikeine!”

Die vraag wat al meer en meer by my opkom, is wat mense van verskillende afkoms en oortuiging kan saamsnoer? Is dit net ’n sokkerwêreldbeker of ’n rugbywedstryd in Orlando? En is dit dan net vir ’n rukkie? Die vraag raak nog dringender as jy die vraag aan Christene vra. Christene ervaar soveel onderlinge diversiteit, maar weet tog goed dat hulle volgelinge van Christus is, wat eens op ’n tyd gebid het: “Vader… ek bid dat hulle almal een sal wees.” (Joh. 17)

Dit word deesdae al duideliker dat eenheid en sinergie te midde van diversiteit net moontlik is, as ons iets vind, ’n gesamentlike droom of ideaal het, wat groter is as onsself en ons eie belange. Een wat sal maak dat ons op ’n dag sal sê: Vandag is ons almal Christene! My beskeie mening is dat net ’n werklike innige verbintenis aan Jesus Christus self dit kan doen. Daarom is Adventstyd, die viering van Kersfees en die vreugdevolle boodskap wat dit bring, so ontsaglik belangrik.

Miskien moet ons dit met nog ’n storie verduidelik. In Jan Rabie se kortverhaal- bundel “21” vertel hy die storie van ’n jong man en meisie wat deur die oorlog van mekaar geskei word. Eers deur `n konsentrasiekamp, maar ook, so moet Evert by sy terugkeer ontdek, deur ’n grensdraad wat nou hul dorp in twee verdeel. Hy neem egter sy kitaar, stap te midde van dreigende soldate na die grensdraad en begin daar sing… totdat Anna opdaag. Die eens vyandige dorpenaars begin dan in stilte agter hul vergader, weerskante van die draad. Die teerheid van hul gebroke verhouding en kommunikasie kan ek nie hier oorvertel nie, maar die verhaal eindig so: Anna is nou verloof aan iemand anders, maar terwyl die wagte, na Evert klaar gesing het, hul skreeuend terugbeveel, sê Evert: “Eendag sal die dorp weer een wees, en dan miskien, kan ons kinders trou…” Rabie eindig die verhaal self so: “Maar vir een aand, en vir `n lang tyd in herinnering, het sang niemandsland oorkruis om `n trotse vrede uit een man se pyn te skep, en vir almal wat dit gehoor het, `n boodskapper te wees.”

Die Kind in die krip roep wyses en skaapwagters, rykes en armes, ja baie verskillende mense nader, maar nie om by die krip met mekaar te stry nie. Ons word geroep om daar te kom kniel! Kersfees vertel inderdaad die verhaal van God wat die hele wêreld liefhet. Adventstyd wil en moet ons daarom laat sing. Dit wil die drade wat ons gespan het, oorbrug. Daar word graag vertel hoe soldate tydens die eerste Wêreld-Oorlog met Kersfees ophou veg het om uit hul loopgrawe vir mekaar Kersliedere te sing. Dalk moet ons dié Kersfees, waar ons ook al is, ophou om ons kartetse af te vuur om vir ’n oomblik die Kind in die oë te kyk. Hoe het Adam Small nou weer gesê?: Kô lat ons sing!

Trackback from your site.