{ARGIEF}

Verlede week het ek Pinkster op Swellendam gehou. Vir dié wat nie weet nie, Pinksterbidure is in 1860 deur ds. GWA van der Lingen in die Paarl begin en na 150 jaar is dit elke jaar steeds `n groot gebeurtenis, oral oor. Die week op Swellendam was dit nie anders nie. Die reën het geval, maar die mense het bly kom. Hoe dan anders? Reëntyd in die Ruêns sit altyd `n glimlag op mense se gesigte. Boonop is die eeufees van die “nuwe” kerkgebou die afgelope naweek gevier soos net die plattelanders dit kon vier. En die stories en staaltjies het ook nie weggebly nie. So vertel ds. Olivier Muller van die oom wat elke Sondag op die gallery gesit het, waar hy nie die dominee kon sien nie en die dominee ook nie vir hom nie. Tydens kollekte het hy egter altyd vir ds. Olie `n vuil gevatte pepermentjie gestuur, net om te laat weet hy is daar! Dan word daar vertel van die legendariese M.E.R, of te wel tant Miem Rothmann, wat op `n keer aan dr. Kay de Villiers sou gesê het: “Dr., ek rook nie en drink nie en hou glad nie van die Engelse nie, so verduidelik jy vir my waar kom my jig vandaan.” Nie heeltemal polities korrek nie, maar ai, so eerlik.
Maar die Pinkster tussen die wonderlike mense was ook vir my dinktyd. Met Pinkster vier ons immers die “geboortedag” van die kerk. Ek kon nie anders as om baie te dink oor die kerk en die gemeenskap nie. Swellendam is vandag `n baie anderse dorp as die een waarvan die museums jou vertel. Daar is nou ook `n splinternuwe “mall” op die dorp, met `n Wimpy en al. Na 1994 het ook ander dinge verander. Dit is vandag `n dorp vol “inkommers”, met mense van alle kleure en oortuigings. Daar is buitelanders en binnelanders wat `n plekkie in die son kom soek op die pragtige, ou historiese dorp. Toe dink ek verder. Daar is by my geen twyfel dat die kerk oor geslagte `n bepalende rol op die platteland gespeel het nie. My vraag is nou, hoe gaan die kerk dit doen in `n nuwe tyd? Gaan ons dit regkry om die wonder van Pinkster waarlik te laat oorspoel in `n dorp. Gaan ons dit regkry om met nuwe gesindhede die belange van alle mense te bevorder en `n nuwe gemeenskap te help bou? (1 Tess.5:15)
Na `n week se preek in die ou statige gebou met sy mooi tuine het ek egter ook sommer van nuuts af waardering gekry vir ou kerke. Jy sien, hulle preek sewe dae `n week ook vir die mense wat nie meer erg aan die kerk het nie. Hulle preek die einste preek wat Petrus op Pinksterdag gepreek het. Ja wanneer hulle goed versorg is en elke uur die tyd vir die dorpenaars aandui, dan beier die klokke wat Petrus op Pinksterdag gepreek het: Jesus is die Heer.
Dit was om baie redes vir my `n kosbare week vol nostalgie, maar toe die dorpenaars Sondagmôre die ou grote vol pak, het ek geweet: Swellendam se storie is nog lank nie klaar geskryf nie en met die krag van die Heilige Gees, wat verskillende mense bymekaar kan en wil bring kan die toekoms soveel hoop inhou soos die groen heuwels om Swellendam na die reën. Dit is natuurlik waar van al ons plattelandse dorpe.