{ARGIEF}

Vandag sommer nog iets uit my en Mariette se boek: Ontdek jouself voor God (CUM)
Ek soek `n mens, maar al wat ek kry is maskers – Socrates
New beginnings are messy – John Galsworthy
Daar word vertel dat `n dame op `n dag in `n hysbak geklim het. Daar was net een ander persoon in die hysbak, `n baie aantreklike man. Net voor sy die knoppie vir die vloer waarheen sy op pad was,wou druk, het sy vir `n oomblik opgekyk en toe in stomme verbasing na die man bly staar. Voor haar het die rolprentakteur Robert Redford gestaan. Toe sy uiteindelik haar spraak terugkry , kon sy net die volgende uitkry: “Jy is tog die regte Robert Redford, nie waar nie?” Sy antwoord is iets om te onthou. Hy het geglimlag en gesê: “Ek is, maar net as ek alleen is…”
Jy sien, die meeste van die tyd dra ons maskers. Die rede? Wel, ons doen dit omdat ons dikwels so onseker van onsself is, dat ons nie die moed het om dit wat ons dink ons is, vir die wêreld te wys nie. In `n wêreld wat met soveel onsekerheid leef soos wat tans die geval is, raak die krisis nog groter.
Miskien onthou jy nog die groot onsekerheid wat geheers het tydens die oorgang van die vorige millennium na die een waarin ons nou is. Mense het gewonder of rekenaars gaan hou en of vliegtuie nie gaan val nie. Wel, niks hiervan het gebeur nie, maar ek lees wel êrens dat die eerste ware millennium baba presies een jaar en nege maande na die aanbreek van die nuwe millennium gebore is. Sy naam was 9/11! Hierdie “kind” het inderdaad baie dinge verander. Analiste is dit eens dat ons in `n tyd leef waar een wêreldorde besig is om plek te maak vir `n ander een. Die finansiële krisis wat in Oktober 2008 soos `n digte mis op die wêreld toegesak het, het `n mens laat wonder hoe lank die wêreld soos ons dit leer ken het, nog kan voortbestaan. Tydens die oorgang van enige ou orde na `n nuwe orde, tref `n mens gewoonlik een of ander vorm van chaos of wanordelikheid aan. Dit leer die geskiedenis ons. Revolusies is bloedig en morsig. Die vraag is of daar in so `n tyd wel stabiliseerders te vinde is wat ons kan help om hierdie oorgangstye sinvol te hanteer. Vele sulke moontlikhede is al genoem, maar veral drie staan vir my uit, naamlik duidelikheid oor jou identiteit, gesonde gemeenskapslewe en duidelikheid oor jou roeping. Die laaste twee hou natuurlik verband met die eerste .
`n Gesprek oor wie jy is, waar jy vandaan kom en waarheen jy op pad is, is in dae soos hierdie van wesenlike belang. Niemand weet hoe die toekoms gaan lyk nie, maar as die bestaande ordes om jou ewe onseker begin lyk, is dit van wesenlike belang dat jy sal seker maak wie jy self is en dit konsekwent sal leef. Kom ons stel dit in ander woorde. Nie net Suid-Afrika nie, maar eintlik die hele wêreld gaan tans deur `n massiewe oorgangstyd. Oorgangstye gaan altyd gepaard met verlies. Daar is goed wat verloor word, wat agtergelaat word. Daarom is daar ook altyd momente van rou in so `n tyd. Sommige doen dit bewustelik en ander onbewustelik. Dit bly egter seer. In so `n tyd is dit baie belangrik om te verstaan dat daar ook sekere dinge in jouself is wat gekruisig moet word, ja, wat sal moet sterf. Dit is egter net so belangrik om te verstaan dat daar dinge in jou is wat nooit hoef te verander nie en eintlik nooit mag verander nie, omdat die kuratorskap van daardie deel van “jouself” nie in jou of die konteks lê nie, maar by God. God waarborg dit. God gee dit. God bewaar dit. Dit is daardie deel van jou wat tog nooit agter maskers weggesteek moet word nie, maar wat met vrymoedigheid vir die wêreld gewys moet word. In hierdie deurmekaar tye hoef die kinders van God nie skandvlekke te dra nie, maar tekens van God se genade. Ons mag en moet dit vir die wêreld wys.