{ARGIEF}

Kort voor Kersfees het ek die voorreg gehad om saam met `n paar mede-Christene en op uitnodiging van `n groep Palestynse Christene, Palestina en in besonder die Wes-Oewer te besoek. Voor die reis het ek min verstaan van terme soos “besette gebied, kontrole punte, die muur (hoër en langer as die Berlynse muur), die 1967-grense, setlaars en settlements. Dit is woorde wat vir die Palestyne alledaagse terme is en hul lewe op ingrypende wyse raak. Die Wes-Oewer is ongetwyfeld een van die mees gemilitariseerde lappies grond op aarde.
As `n mens op die Olyfberg staan, kyk jy af op die ou stad Jerusalem. Die Olyfberg is deel van Oos-Jerusalem en ook deel van betwiste, besette gebied in Palestina. Reg agter die Olyfberg lê `n stuk grond wat jou op pynlike wyse aan Distrik Ses herinner. Hier sal jy die rommel van huise sien, waarvan sommige reeds `n paar maal platgeslaan is. Min besoekers sien dit of word daarop gewys. Die ou stad Jerusalem is vandag in vier dele verdeel: `n Joodse deel, `n Armeense deel, `n Islamitiese deel en `n Christen deel. Selde het die bekende woorde van Christus (Luk 13:34) vir my soveel betekenis gekry soos hier: “Jerusalem Jerusalem… hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaar maak soos `n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie.”
Ek kon ook nie anders as om aan ons eie land te dink nie. `n Week tevore was ons midde in die landbou-onrus hier in die Wes-Kaap. Tydens `n besoek aan `n plaas hier in die Boland, haal die boer die volgende briefie uit sy hemp se sak. Dit is geskryf deur een van sy plaaswerkers. Ek beskerm om verskeie redes graag hulle en die plaas se identiteit:
“Goeie Môre Meneer
Die rede hoekom ek hierdie brief skryf is om vir u `n bietjie moed in te praat. Ek weet meneer is `n bietjie bekommerd oor die stakery. Meneer is baie gespanne. Al maak u of alles okay is, maar dit is nie. Ek kan dit sien. Ek voel dit saam meneer. Want as dit hier moet gebeur gaan dit groot skade wees. Maar u moet weet hier is Iemand wat oor die plaas kyk. En dit is Jesus. God beskerm die plaas en Hy sal nie toelaat dat enige iets hier gebeur nie. Sit maar net meneer se vertroue in Hom. Ek glo God luister na ons gebede en Hy sal die storm stilmaak. Ek wil net hê u moet `n bietjie kalmeer, want Jesus se beskermde vlerk is oor …. (die plaas se naam) Moenie bekommerd wees nie, want alles is oraait op die plaas.
Lekker werk”
Ek het tydens die besoek aan Palestina telkens besef hoe ongelooflik trots ek is op wat in Suid-Afrika vermag is, maar ook watter enorme uitdagings ons nog voor ons het.
Mag ons in 2013 skuiling onder Sy vlerke bly soek en onthou dat ons baie verskillende kuikens is wat skuiling soek.