{ARGIEF}

Die nuwe Pous is toe gekies en nie sonder belangstelling en kommentaar nie. Sy verkiesing en eerste openbare verskyning het mense gaande gehad en nuusbulletins op SKY, BBC, CNN en selfs eNCA vir ure domineer. Berigte en vertellings oor hom, wat aandui dat hy eintlik `n nederige en “gewone” mens is, het spoedig begin verskyn. Sy keuse, volgens gebruik, vir `n nuwe naam, het dit bevestig. Hy sal voortaan bekend staan as Franciscus I. Dit het my laat dink aan nog `n Katoliek, Benedictus van Nursia wat in die 5e en 6e eeu geleef het. Benedictus is in Rome opgelei, maar het in die stadjie Nursia gewoon. Hy is egter so deur die euwels van die dag ontgogel dat hy na die berge gevlug het en `n klooster op die Monte Cassino begin het. In een van sy geskrifte skryf hy veral oor nederigheid. Die twaalf reëls wat hy jare gelede aangegee het as `n weg na nederigheid, verdien na al die eeue steeds ernstige oorweging.
Een: Lewe versigtig en met groot ontsag voor God. Twee: In navolging van Christus moet God die Vader se wil konstant gesoek en gehoorsaam word. Drie: Wees ook gehoorsaam aan hulle om jou. Luister en stel jouself ondergeskik aan andere. Vier: Verdra vervolging, aanvegtinge, verguising en die pyn wat jy as Christen aangedoen word met geduld en volharding. Vyf: Bely jou onrein gedagtes en handelinge. Ses: Lewe eenvoudig en sober en wees tevrede met wat jy het. Mag ek in eie woorde byvoeg. Vra jouself gedurig af of jy nie genoeg het nie en hoe jy die woordjie “genoeg” definieer. Sewe: Wees baie versigtig om te veel van jouself te dink en sien jouself nie verhewe bo die skepping en ander nie, maar as `n bitter klein deeltjie van God se skepping. Agt: Stel jou in gehoorsaamheid ondergeskik aan die orde-reëlings van die gemeenskap waarin jy leef. Dit is arrogant om te dink jy kan dit verbreek en dat jy daarbo verhewe is. Nege: Stilte. Praat minder en luister meer. Kies jou woorde baie fyn. Weerhou jou selfs van praat en praat net as jy gevra word. Tien: Vermy ligsinnige praatjies. Elf: Wees eenvoudig in jou taal en woordkeuse. Vermy luidrugtigheid en praat met min, maar logiese, eenvoudige en verstaanbare woorde. Twaalf. Wees eenvoudig in jou voorkoms. Vermy uitspattighede. (Bron : Foster R. Classical Devotions, 1989)
Daar is meer Katolieke wat hierdie kernwaarheid oor nederigheid onderskryf het. Ek dink aan Franciscus van Assisi self, Moeder Teresa, Henri Nouwen, Thomas Merton en Bernard van Clairvaux. Daar is vele meer. Vir die leier van `n kerk met meer as `n biljoen lidmate, is die eerste geluide wat ons van Pous Franciscus I hoor, is bemoedigend. As gewone mens mag hy vorentoe moontlik foute maak. Maar onthou, daar is net een ding wat erger is as om foute te maak en dit is om niks te doen of te probeer nie. Laat ons dit wat ons doen egter met nederigheid doen.