Woensdag 21 Julie Wanneer ons ons vrag verbrand

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Gebeure wat ons dink aanvanklik onbenullig is, kan soms groot chaos veroorsaak. Dit het ons `n tyd gelede gesien toe `n vulkaan in Ysland uitgebars het en feitlik alle lugverkeer in Europa tot stilstand gebring het. Hierin is daar egter `n les opgesluit. Met soveel aktuele kwessies wat daagliks ons aandag vra, gebeur dit soms dat ons by kwessies verbystap wat nie so opsigtelik is nie, maar uiteindelik groot chaos in ons lewens veroorsaak.
Daar word `n storie vertel van twee stoomskepe wat jare gelede op die Mississippi-rivier feitlik gelyktydig na `n gesamentlike bestemming vertrek het. Die skepe het nooit vinnig gevaar nie en daar was genoeg tyd vir die bemanning om oor en weer met mekaar te ginnegaap. Spoedig het daar egter `n wedywering ontstaan oor watter skip eerste by die bestemming sou aankom. Meer steenkool is verbruik, tot een van die skepe se bemanning sommer begin het om van die katoenbale wat hulle vervoer het, te verbrand. Met die ekstra vuurkrag was hulle dan ook die wenners. Onnodiglik om te sê dat die wedywering bepaalde reperkussies gehad het. Die kaptein se harde woorde aan die bemanning van die “wenners” is iets om te onthou. In een sin het hy dit opgesom: “Julle het die resies gewen, maar die vrag verbrand”
Benjamin Zander het al gewaarsku dat daar in ons samelewing `n uiters kompeterende mentaliteit van vergelyking ontstaan het waarin getalle alles bepalend word. Ons soek gedurig na die grootste, die vinnigste en meeste. Jou waarde word bepaal deur hoe baie jy het, hoeveel jy verdien, hoe hoog jou IK is en hoe baie punte jy behaal. Ons kan veel meer voorbeelde noem. Hierdie skrywe is nie `n suurdruiwe-poging om sukses te bevraagteken nie. Wat wel problematies raak, is wanneer ons die “vrag” begin verbrand om die “wedstryd” te wen.
Alhoewel daar verskil word oor wat die mens se basiese prioriteite en roeping in die lewe is, sal die meeste mense saamstem dat sukses nooit ten koste van ons basiese prioriteite en roeping in die lewe mag wees nie. So weet ons dat geld nie altyd die vakuum vul nie, maar in sommige mense se lewens dit juis skep. Die leegheid moet dan deur iets anders gevul word, soos die onbeheersde drang na mag. Hierdie soeke na mag verbrand dikwels veel meer goed as wat ons besef.
Tog is dit ook so dat ons soms onder druk moet werk waarvan ons net nie kan wegstap nie. Daarom `n tweede opmerking vir die tye waarin ons leef. Om die liggaam wat ons as `n geskenk van God ontvang het te beskerm, vra nie net dat ons goed sal prioriseer nie. Dit vra ook dat ons onsself konstant sal hervul en tyd sal vind om ons liggaam en gees te vernuwe. Dit werk so. Hoe groter jou uitdagings in die lewe, hoe groter die verantwoordelikheid om jouself op konstante basis te voed, te vul en te vernuwe. Groot uitdagings vra `n gesonde liggaam en veral `n gesonde gees. Ek verstaan al meer waarom Luther gesê het dat hy nooit deur sy dag se werk kon kom as hy nie ten minste drie ure per dag gebid het nie. Die somme in God se ekonomie werk dikwels anders as in die wêreld daarbuite. Wie die sin daarvan verstaan, ontdek egter `n vreugde en `n volheid so groot soos die skepping self.

Trackback from your site.