{ARGIEF}

Ek skryf vandag hier uit die moderamen van die Algemene Sinode in Pta. Jy sou dit in gewone taal die vergadering kon noem wat tussen sinodes van die kerk se belangrikste werksaamhede moet koördineer. Een van die groot vrae is waaroor ’n kerk in tye soos hierdie moet praat. Die moeilikheid is dat daar by verskillende mense natuurlik verskillende standpunte hieroor bestaan. Tog lyk dit vir my of daar ’n paar stemme is wat al meer en meer gehoor word. Die volgende sake behoort myns insiens op die prioriteitslys van enige kerk te wees.
• In ’n tyd waar daar al meer en meer vrae oor geloof, die bestaan van God en die persoon en verlossingswerk van Jesus Christus gevra word, behoort enige kerk haar kernbelydenis helder en duidelik in verstaanbare taal te kommunikeer.
• Enige kerk behoort in ’n tyd van verandering en transformasie met die grootste mate van geloofsonderskeiding te werk. Die grondhouding van kerklike vergaderings behoort werklik te wees om na die wil van die Here te bly vra. Kerkleiers moet verstaan dat hulle in die eerste plek geroep word om geestelike leiers te wees. Daarom is ’n kerk wat ophou bid soos ’n liggaam wat ophou asemhaal. Alle kerkleiers moet dit goed onthou. ’n Kerk beweeg nooit uit eie krag nie. God beweeg. ’n Kerk moet luister en volg.
• In ’n land soos Suid-Afrika behoort ’n kerk altyd konkreet besig te wees met versoening, eenheid en geregtigheid. Iets soos die sistemiese verligting van armoede behoort baie hoog op ons agenda te wees.
• ’n Eens “magtige” kerk soos die NGK behoort in die dae met die uiterste sensitiwiteit te luister na die stemme van broos gemarginaliseerdes, mense se stemme wat nie altyd so duidelik soos celebs sin gehoor word nie. Die pyn en vrae van gewone mense behoort op een of ander manier op die tafel van kerklike vergaderings te kom.
• ’n Kerk in 2010 behoort gelyktydig twee dinge te doen. In die eerste plek moet die kerk relevant, kontemporêr, bewus van die nuutste wetenskaplike en tegnologiese ontwikkelinge IN die wêreld funksioneer, sodat daar die hele tyd ’n liefdevolle, geduldige en ingeligte gesprek met die wêreld kan plaasvind. Daar moet ’n aktualiteit in ons vergaderings wees. In dieselfde asem moet die kerk die hele tyd ’n ANDERSOORTIGHEID, noem dit ’n heiligheid as jy wil (en ek weet die kerk bestaan ook maar uit gewone sondige mense), te beliggaam. Die strewe na reinheid is nie iets wat Calvyn uitgedink het nie. Al is ons feilbare mense is dit ’n oproep wat uit die Bybel kom… Maar juis daarom is die genadeboodskap van Jesus Christus so belangrik.