{ARGIEF}

Die vraag na die sin van die lewe is nie in die eerste plek `n wetenskaplike vraag nie en tog het heelwat wetenskaplikes al die vraag gevra – van Blaise Pascal tot Louw Alberts.
Dit is nie `n vraag wat dikwels by partytjies geopper word nie, maar dit word veral in nood en lyding en tydens krisisse gebore. Dit is nie ‘n teoretiese vraag nie, maar so het Prof. Hennie Rossouw ons herinner, `n vraag wat in die bestaanskrisisse van die lewe self gebore word. Die vraag teister jou wanneer die waarom- en waarheen vrae te veel word. Dit kom wanneer jy besef dat die lewe soos ‘n boek voor jou oop lê. Jy lees en lees, maar verstaan daar geen woord van nie. Jy sien nie die plot óf die ontknoping nie. Dit is nie `n vraag wat in laboratoriums geskep word of met die samevoeging van chemise stowwe opgelos kan word nie.
Dit is ook nie net dominees wat daarmee omgaan nie. Die stemme van Søren Kierkegaard, Franz Kafka, Fyodor Dostoyevsky, Jean-Paul Sartre en Albert Camus klink nog helder in ons ore. So het Camus ons byvoorbeeld weer op die mite van Sisifus gewys. Hy was die arme siel wat gedoem was om sy hele lewe ‘n rots teen `n berg op te rol, net om agter te kom dat dit weer afrol, net voor hy bo is. Klink amper soos die boek Prediker, nie waar nie?
Een antwoord op hierdie vraag, het mense egter oor eeue aangegryp. Dit het gekom in die persoon van die seun van `n eenvoudige timmerman van Nasaret. Self het Hy geen enkele boek geskryf of enige belangrike posisie beklee nie. Hy het geen toekenning ontvang nie en het eintlik geen CV gehad nie. Tog is daar elke dag op elke bladsy van die koerant `n indirekte verwysing na Hom: Die datum natuurlik!
John Ortberg skryf in sy Who is this man? (2012) dat, as ons letterlik alle verwysings na Hom uit ons wêreld sou wegneem, daar min sou oorbly. Elke kruis, elke kunsskat en hospitaal wat deur Hom geïnspireer is; elke welsynsorganisasie en elke universiteit of skool wat oorspronklik in Sy naam gestig is: Harvard, Princeton, Oxford, Cambridge, ja selfs die Universiteit van Stellenbosch. So ook ons kalender, name van stede regoor die wêreld en veel meer. Jare terug was Brutus en Caesar belangrike politici. Vandag vernoem ons honde en pizzas na hulle. Hy het as “misdadiger” aan `n kruis gesterf, maar vandag het Hy meer volgelinge regoor die wêreld as enige individu op twitter. Wie is die man?
Hy is díé een in wie miljoene mense steeds hul doel en sin in die lewe ontdek. Nee, dit word nie gevind in korrekte teologiese antwoorde en lesingsale nie, maar in `n persoonlike, intieme verhouding met Hom self. Vir wie dit sin maak, het die antwoord op die vraag na die sin van alles alreeds begin duidelik word.