Woensdag 5 September: Die pyne van `n oorgangstyd. Godsdiens Aktueel Die Burger

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

`n Boekresensie – Woordeloos tot verhaal, trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans en `n brief in reaksie daarop in DB verlede week, verdien verdere kommentaar. Oor die betrokke skrywes wil ek my nie uitlaat nie, maar oor die saak van liminaliteit waaroor die skrywers dit het, wel.
Die term liminaliteit kan in gewone taal ook vertaal word met `n oorgangstyd of `n “tussentyd”. Die antropoloog Victor Turner het dit reeds jare gelede gebruik om die “nog-hier-nog-daar” ervaring in oorgangsrituele te beskryf. In so `n ritueel word mense van alles gestroop: mag, status, identiteit, en as’t ware uit die samelewing verban om daar `n nuwe identiteit en toekomsvisie te ontdek. Tradisionele inisiasie seremonies is goeie voorbeelde hiervan.
Dalk verkeer die hele Suid-Afrika tans in liminaliteit. Die oue is verby, maar wees ons genadig as dit wat ons tans ervaar, die finale nuwe produk is. Oorgangstye gaan dikwels gepaard met `n verlies aan orde en moraliteit. Dit is baie gepas dat Abraham Phillips se Die Verdwaalde Land, verlede week `n lank uitgestelde erkenning gekry het.

Baie blanke Afrikaanssprekendes ervaar liminaliteit tans intens. Hulle is gestroop van baie sekuriteite en probeer hulself verder stroop van enige iets wat aan die verlede herinner. Dit geld vir party, kerk en feitlik elke vorm van institusie wat eens op `n tyd die basis van die gemeenskap gevorm het.

Dit is `n tyd van malende, bitter en aggressiewe emosies. Kyk maar na wat alles op ons sosiale webwerwe en selfs in briewekolomme kwytgeraak word. Dit is verstaanbaar, maar ons moet verstaan dat ons onsself moeilik sal reinig deur net weg te stap en te maak of die verlede niks met ons te make het nie. Verskoon die parodie, maar `n stort-vloed van woorde alleen, sal nie help nie.

Ons is soos sweefstok-artieste. Die een stok is gelos en nou trek ons in `n duiselingwekkende oomblik tussen hemel en aarde, met min werklike vastigheid. Predikante en sielkundiges wat met trauma in ons gemeenskappe werk, sal vir jou sê dat die psigologiese letsels van apartheid nog `n hele ruk met ons sal wees. Oorgangstye waai nie oornag oor nie. Die plek ontbreek om Israel se veertig jaar in die woestyn te bespreek. Dit bly `n klassieke voorbeeld van liminaliteit.

Die vraag is waar mense in oorgangstye hul identiteit moet soek. In ons eie land wil dit soms lyk asof mense ontvlugting soek in `n strewe na geld, `n stywe dop en sport as strooisuiker daaroor. Die vraag is of dit ons sal help om `n nuwe stabiele, ge-ankerde identiteit te vind? Die Breivik-sage in Noorweë het gewys wat `n gevaarlike konkoksie uitbroei wanneer `n beheptheid met nasionalisme, vermeng word met `n skewe evangelie. Terloops, onthou tog dat Rudolf Hess, na sy verhoor oor die massa-moord op die Jode, ook as “normaal” geklassifiseer is.

My gebed is dat ons in hierdie dae die radikale boodskap van die Evangelie opnuut sal hoor. Mag dit ons help om ons dieper identiteit in God en ware medemenslike bestaan te herontdek.

Trackback from your site.