{ARGIEF}

`n Tyd gelede het ek die onbenydenswaardige voorreg gehad om saam met die polisie `n ou woonstelgebou in Hillbrow te besoek. Daar was geen elektrisiteit, water of sanitasie nie. Kinders het tot in groepe van vyftien saam in enkelkamers gewoon. Die toestande was haglik. Een vraag het by my bly opkom: Waarom hardloop hierdie kinders nie weg nie? Wat gebeur met jou denke en psige as hierdie hel jou huis word? Die antwoord is eenvoudig. Hulle het geen hoop meer oor dat daar enigsins iets beter daar buite vir hulle wag nie.
Verlede week was ek saam met Prof. Jonathan Jansen en `n paar kerkleiers in gesprek om saam oor die krisis in die onderwys te praat en wat die kerk se rol behoort te wees. Hy vertel toe dat hulle twee hoofde uit elke provinsie na Bloemfontein genooi het. Dit was hoofde wie se skole buitengewone verbetering in slaagsyfer getoon het. Hulle wou uitvind wat die hoofde gedoen het. Die antwoord was merkwaardig. Dit was nie nuwe rekenaars of kurrikulums nie. Dit was ook nie noodwendig sportvelde of nuwe klaskamers nie. Nee, op verskeie maniere , ook deur sprekers wat ingebring is, is die kinders gemotiveer en `n boodskap aan hulle oorgedra dat daar hoop vir hulle is!
Armoede is nie net `n gebrek aan geld nie. Dit is veral `n gebrek aan hoop. Daar is niks meer ellendig as wanhoop nie. Dit groei uit `n manier van dink wat jou gevange neem en verlam. Angs, vrees en bitterheid maak op `n ander manier van ons slawe. Ware rykdom groei uit hoop. Ware leiers is daarom ook altyd mense wat die werklikheid nugter in die oë kyk, maar dan ook altyd kan aantoon waar die pad na nuwe moontlikhede gevind kan word. Dit geld vir alle vlakke van die samelewing.
Dit is een van die redes waarom ek elke keer so graag terugkeer na die Evangelie van Jesus Christus. Al sê wie ook al wat, wil die gemeenskap van ware gelowiges `n veilige ruimte bied, wat stukkende en seer mense weer hoop en sin gee. Na die opstanding van Christus leef daar `n boodskap wat verkondig dat mense selfs in hul donkerste uur kan vashou daaraan dat `n nuwe dag weer sal aanbreek. Ons sal miskien nie vandag of môre lag nie, maar beslis weer. Ek glo dat ons almal voete van klei het, maar dat geen fout so groot is dat dit nie in Christus herstel kan word nie.
Verlede Vrydag het ek die voorreg gehad om tyd met `n hele aantal skoolhoofde by Goudini deur te bring. Hulle verteenwoordig kinders van alle bevolkingsgroepe en lae van die samelewing. Dit is laat Vrydagmiddag na `n lang week en Saterdagmôre sal hul weer daar wees. Hul sit bankvas in die saal. Ons praat reguit oor dissipline en werksetiek en die herstel van morele waardes. Maar ons praat ook reguit oor hoop en motivering en ek sien dit in hulle oë en gesigsuitdrukkings… Ons gaan nog baie goud wen!