Zimbabwe… die laaste uitweg

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

“In `n oorlog is die eerste wat sterf die waarheid”

Op hierdie stadium lyk dit nie of die mense van Zimbabwe Vrydag na die stembusse sal gaan om in `n opvolgverkiesing te stem nie. Wat wel seker is, is dat onsekerheid, spanning, geweld, onreg en lyding hoogty vier. Soveel stemme het die afglope tyd opgegaan wat die krisis in daardie land in die sterkste moontlike taal veroordeel het dat `n mens wonder of daar menslik gesproke nog iets nuuts gesê kan word wat werklik gehoor sal word. Resente ervarings het ons op hierdie punt diep ontnugter en moedeloos gelaat. Dalk is dit daarom juis nou nodig om vanuit `n geloofsperspektief oor Zimbabwe te praat.

Nou die dag loop ek `n dame raak wat lank in Zimbabwe gewoon het. Haar man is in die sewentiger jare daar in `n motorongeluk dood, maar sy was nog jare lank die skriba van die NG gemeente op Masvingo. Zimbabwe het van haar `n baie groot prys gevra. Sy het haar man daar verloor en so ook al haar finansiële sekuriteit. Tog straal daar uit haar `n sagte blymoedigheid wat jou skaam laat. Dit was egter `n opmerking van haar wat my weer diep laat dink het. “Ai ds, ons bid al soveel jare vir Zimbabwe. `n Mens wonder baie dae wanneer God ons gebede sal verhoor.”

Ek het dadelik twee dinge besef. Hier is iemand voor my wat al vir baie jare baie dieper en innniger vir Zimbabwe bid as wat ek ooit kan droom. In die tweede plek het ek net weer besef dat God sy eie tyd het. Ons verstaan dit moeilik en raak soms ongeduldig daarmee. Tog wys die geskiedenis vir ons dat geen onreg ooit permanent duur nie. Daarvoor sorg God self. In die geval van Zimbabwe sal dit ook nie anders wees nie. Maar ek kon nie anders om nog verder te dink nie.

Die afgelope tyd is daar soveel pogings aangewend om oproepe tot `n verskeidenheid van politieke leiers te maak om in te gryp. Enersyds is dit altyd moeilik om `n oor by dié besige mense te kry. Andersyds roep die oomblik ernstige vrae op oor hoe suksesvol dit was. Dan maak die getuienis van die oud-Zimbabwier nog gedagtes by my los. Daar is natuurlik `n Koning wat baie toeganklik is en dikwels juis op ons wag dat ons ons diepste versugtinge aan Hom sal openbaar, al ken Hy ons harte dikwels beter as wat ons dit self ken. Ja, al voel dit vir ons of alle opsies menslik gesproke uitgeput is, is God nog steeds God. Daarom lyk dit vir my of daar iets baie vanselfsprekend is wat nou in hierdie dae op gelowiges se tafel behoort te wees: Volhardende gebed vir Zimbabwe. Oor die hoe daarvan hoef ons nie voorskriftelik te wees nie, maar dat dit moet gebeur lyk vir my onverhandelbaar.

Laastens behoort daar ook vanuit die kerk `n profetiese stem aan alle leiers direk betrokke by die situasie te gaan. Dit mag kras klink maar moet gesê word. God oordeel en sal volmaak en regverdig oordeel. Niemand  kan dit ontduik nie. As die kerk dit nie meer sê nie moet ons `n groot deel van die Bybel nie meer ernstig neem nie. Dit staan nie teenoor sy liefde nie maar is juis `n werklikheid omdat Hy liefhet. Die onreg in Zimbabwe skreeu ten hemele. Ons hoef nie meer daaroor te wonder nie.  Enige regdenkende persoon sal dit erken. Van die uitsprake die afgelope tyd is nie net `n miskenning en uitdaging van basiese menseregte nie, maar ook basiese logika en intellek. Die mense van Afrika is nie dom nie. Hulle sien dit raak.

`n Laaste sensitiewe opmerking teenoor die leierskap, juis vanuit `n morele perspektief. Moet asseblief nie `n skaduwee gooi  oor die integriteit en morele hoë grond wat deur die bloed van mede-Afrikane in `n bevrydingsstryd verwerf is nie. Deur nou stil te bly oor die skreeuende onreg wat teenoor mede-Afrikane gepleeg word, kruisig julle dit waarvoor die wêreld jul eens geëer is.

`n Laaste word van hoop. Diegene wat onlangs daar was sal weet dat die land na die somerreëns so mooi is soos wat dit kan wees. Dit hou altyd die belofte van herstel in. Net soos wat seisoene kom en gaan sal God se nuwe somer ook weer in Zimbabwe aanbreek.  Onthou die nag is dikwels op sy donkerste voor die nuwe dag breek. Intussen weerklink die stille rouklag en geween  van Zimbabwe se mense steeds helder in my ore. Dit was juis die aanskoue en geween van mede-gelowiges daar wat by my die diepe oortuiging gelaat dat God dit sal hoor. Kom ons bid almal saam vir hulle.

Trackback from your site.

Leave a comment