{ARGIEF}

Die optog van Distrik Ses tot by Parlement in  Kaapstad op Stil Saterdag was  ‘n baie hoopvolle dag vir almal wat vrede en geregtigheid in ons land soek.

stil-saterdagDit is vir my betekenisvol dat die optog op stil Saterdag was. Ons glo in ‘n 3dag evangelie, Goeie Vrydag-wanneer ons die kruisiging herdenk. Ons ontmoet dan dié God van deernis en opofferende diens. Op Paassondag herdenk ons die opstanding, die leë graf en is ons saam met Maria aan die soek na die liggaam van Jesus en kry ons net die doeke. Sonder stil Saterdag-die dag van die dood, sou die ander twee nie dieselfde betekenis kon dra nie. Op stil Saterdag slaan die werklikheid van die dood ons op die krop van ons maag. Golgota se drama lê nou agter ons en die finaliteit van die dood en die stilte daarvan ruk ons eintlik tot stilstand. Die drama van pase is geen speel-speel sprokie met ‘n gewaarborgde uitkoms nie. Op stil Saterdag het Christus die  dood betree. Ons kan nie anders as om dit vierkantig in die oë te kyk nie. Die dood is eenvoudig deel van die lewe en op stil Saterdag word ons daarmee gekonforteer. Gelukkig is dit tussen Goeie Vrydag en Paassondag, die kruis en die opstanding.
Sonder die konfrontasie van stil Saterdag kan ons maklik die waarheid oor onsself en agteruitgang in die lewe miskyk.  Eintlik skep stil Saterdag by ons die kapasiteit om die moeilike kante van die lewe eerlik in die oë te kyk. Dinge loop dikwels skeef tussen mense. Eintlik weet ons dat dit die reel is dat met ons beste bedoelings dinge nooit werklik uitwerk soos wat ons dit graag wil hê nie.  Soos in die tyd van apartheid, toe in Distrik Ses, mense hulle hele lewe onregverdig verloor het, hulle wêreld is eenvoudig plat gestoot, families geskuif is, om nooit weer terug te kom nie. Ons kan op stil Saterdag weer hierdie en ander verhale van die dood besoek, ons hoef en mag nie daaroor swyg nie. Ook nie oor Nkandla nie, sê aardbiskop Makgoba, later voor die parlement:” Mnr die President ons verdien beter”. In die 3-dag evangelie, kyk ons nie weg vir die dood en die trawante van die dood, korrupsie, onreg, onge-ergtheid, arrogansie, magsug, eie belang…nie. Ons sien dit in onsself raak, en as dit moet kom ons voor die parlement bymekaar en vra vrae aan die maghebber van ons nasie.  Dat God in Christus die dood ingegaan het, open die moontlikheid dat ons alles in die oë kan kyk en onverskrokke oor die waarheid kan getuig, nie in die eerste plek teen iemand of ‘n party nie, maar vir die eerlike waarheid dat daar fout is en dit ‘n slag gesê, in die publiek gesê moet word.
Ons hoef nie bohaai te maak daaroor nie, ons kan maar net daaroor getuig soos wat ‘n 1000 christene Saterdag gedoen het in die geloof dat die waarheid ons vrymaak en dat geen maghebber daarteen bestand is nie. Nie die magtige apartheid regime nie, en ook nie die huidige regering nie.
Byna al die kerke was daar, ook die moslems en die hindo’s. Kerkleiers in hulle toga’s, kinders in hulle tekkies, ooms en tannies met plakkate wat vra vir geregtigheid. Daar was duidelik oudstryders wat gewoond is aan optogte,met hulle gemeente-baniere –orkeste en -klere. Om my het ‘n paar van ons gestap wat  vir die eerste keer saamstap, maar ons leer gou-gou. Ons plakkate het meer soos die opsomming van ‘n preek geklink, maar ons kon dit vir mekaar wys en moet skep.
plakkaatEk wonder hoe lank dit gaan neem vir NG en VG gemeentes om saam te stap na die parlement? Sê nou maar volgende keer nooi ons mekaar, Durbanville Bergsig vir Moringstar VGK, Helderberg vir Macassar, Sarepta vir Kuilsrivier, Goodwoodpark en Bonteheuwel,  die Ring van SA Gestig vir die Ring van Bellville, Die Ring Zoar vir die Ring van Swellendam. Die twee moderators en verskeie ander moderatuurslede was daar, en dit is ‘n baie bemoedigende begin. As ons oor Pase in ons dorpe en buurtes op ons kansels oor die waarheid van die kruisiging, die opstanding én ook oor die dood  van stil Saterdag kon praat, kan ons dit mos maar in Buitenkantstraat voor die Distrik Ses museum en die polisieskantoor, én in Roelandstraat én voor die Parlement ook doen. Dit is mos ons almal se stad en ons almal se geskiedenis, en belangriker ons almal se toekoms wat op die spel is.
Ons moet leer dat die waarhede van Paasfees nie net waar is in ons binnekamer en in eredienste nie, maar dat dit  waarhede is wat óók op straat en voor die Parlement enkele dae voor die verkiesing waar en van waarde is. Dit is juis hierdie waarhede wat Biskop Newbigin lank terug reeds gesê het wat die wetenskap nie vir ons kan gee nie, maar die publieke waarheid wat die evangelie vir ons gee en ons vrymaak.

NS Vir die wat belangstel lees gerus Alan E Lewis se uitstekende boek: Between the Cross and the Ressurection. A Theology of Holy Saturday. Eerdmans