As ‘n gemeente op reis sou gaan

Written by Frederick on . Posted in Gemeentes

Ek dink dit is in ander woorde vir wat ek vanoggend op ‘n baie praktiese vlak gehoor het. Soms is dit nodig dat ons ons gereelde vaste ritmes moet onderbreek want die Here is besig om ons op reis te neem na ‘n nuwe bestemming wat nie vir een van ons bekend is nie.

Vanoggend se ervaring staan in skrille kontras wat ek ‘n aantal jare gelede gehad het toe ek deel was van ‘n kleiner kommissie wat aan ‘n leiersgroep ‘n voorlegging moes maak ook ‘n moontlike pad vorentoe. Ons het ‘n paar bakens aangewys, maar klem daarop gele dat die uitkoms nie in ons hande is nie maar dat ons die Here daarvoor moet vertrou. Dat ons op reis moes gaan en die Here vertrou vir die uitkoms. Ons sou soos Guder kon se, kom ons gaan op reis en ons maak ons gereed vir die “in-breaking reign of God”. Een van die kommissielede verduidelik dat dit byna is soos om te vlieg in ‘n vliegtuig en dit te her-bou terwyl ons in die lug is! Die reaksie was ‘n geskokte stilte. Een van die senior lede van die vergadering het later gevra: Bedoel julle dat ons op iets moet besluit waarvan ons nie weet waarheen dit sal lei nie. Presies het ons entoesiasties verduidelik. Dit is toe dat die leier genoeg gehad het en met beslilstheid gese het dat ons hom moet verskoon maar hy sal nooit kan ja se vir iets warvan hy nie weet waarheen dit sal lei nie. Nodeloos om te se ons voorlegging is nie goedgekeur nie.

Toe ons uitstap was my moedelose gevoel dat ek in ‘n kerklike vergadering met praktiese ongeloof te make gehad het. Vanoggend het ek by ‘n plattelandse dominee ‘n heel ander ervaring gehad- ‘n gemeente wat bereid is om hulle kalender oop te hou sodat die Here hulle op reis kan neem. Die verskil is nie persoonlikheids tipe of ouderdom nie, die verskil kom in as ons verstaan ons is ‘n “witness” soos Guder dit hierbo beskryf van gebeure, van bewegings wat nie by ons begin het nie, maar wat in-breek in ons werklikheid en ons kom verander. Dit is waarom ons ons netjies kalenders, ek bedoel dit nie net meatfories nie, soms moet opskort. As ons die slawe word van ons kalenders, van dead-lines wat ons van die more tot die aand jaar, hou ons op om getuies te wees en word ons bestuurders van ons eie agendas.

Ek het onlangs ‘n erediens moes lei en het na ‘n “centering prayer” saam met die gemeente as votum, spontaan na die doopvond geloop en mense uitgenooi om na vore te kom indien hulle die behoefte het om bevestiging te ontvang van God se verbond met hulle. Ek maak dan met die water uit die doopvond ‘n kruis op hulle handpalms. Ek verwag een of twee, dalk niemand… veertig minute later is ek steeds besig soos die mense na vore stroom- baie van hulle se tussen trane deur, nou weet ek hoekom ek vanoggend hier moes wees. Ons is die oggend op reis geneem deur die Gees, onverwags maar wonderlik. In die konsistorie na die tyd, kyk die kerkraad mekaar stomgeslaan aan- onshet nie gedink dit kan in ons gemeente gebeur nie. Die Koninkryk het onverwags ingebreek. Se nou maar ek het net voortgestorm met die liturgie, het ons almal die seen daarvan gemis.

Dinge mag meer deurmekaar wees, ons gemeentes het minder mense, maar stadig maar seker is meer en meer gemeentes besig om hulle hande oop te maak en toe te laat dat die Here hulle op reis neem sodat hulle gereed kan wees om deel te neem wanneer die Koninkryk en die heerskappy van Christus deurbreek. Laat ons daaroor bly en dankbaar wees en nie ophou om getuies te wees van die inbrake van God in ons gemeentes nie!

Trackback from your site.

Leave a comment