Die groei wat ons nou benodig, is in karakter

Written by Frederick on . Posted in Gemeentes

Ons begin praat oor die leraar wat ‘n beroep aanvaar het en na 22 jaar die gemeente verlaat. ‘n Jong onderwyser kry nie woorde nie, haar emosies oorval haar. “Dit is elke keer sleg as iemand weggaan” begin sy, “maar ek sal julle vreeslik mis. Julle was vir ons sulke steunpilare, dankie vir al die gesprekke en gebede en dat ons vriende kon wees”. Stadig maar seker ontvou daar ‘n prentjie van ‘n klein geloofsgemeenskap wat in die allermoeilikste omstandighede voortgaan met  die basiese dinge van ‘n gemeente. Terwyl dinge om hulle uitmekaar val, word die Woord gebring, Bybelstudie gehou, kinders gedoop, gekatkiseer, siekes besoek en begrafnisse gehou. Hulle het nie meer elke Sondag ‘n predikant nie, hy moes jare gelede al ‘n buur gemeente ook bedien, later nog een, die geld het op geraak, maar hulle gaan self voort met die eredienste.  In verhaal op verhaal word die leraar bedank vir sy standvastigheid, sy betroubaarheid sy deursettingsvermoe. “Jy was elke dag dieselfde”, getuig hulle een na die ander. “Dominee jy het waardes geleef van diensbaarheid, waardes wat ‘n mens vandag nie meer kry nie. Dankie daarvoor, se ‘n vrou wat al jare in die gemeente is.

Later vertel die leraar se vrou hoe sy as ‘n stads jonggetroude stadsmens hier kom vestig het,  en hoe die gemeenskap haar oor 22 jaar gevorm het. Sy moes ‘n paar keer van beroep verander (op ‘n stadium het sy die kragmeters gelees!) om die kostes van die kinders op skool te help dra. Daar is nie ‘n sweempie van verwyt in haar stem nie, net dankbaarheid en ja verwondering. Twee van haar kinders is 900km ver op skool, hulle ry meestal met ‘n taxi, vertel sy. Sy word bedank vir die mens wat sy was, vir haar toeganklikheid en geloof. Sy vertel hoe sy vir 10jaar gebid het voor daar uitkoms gekom het.

Die huis is leeg, teen die mure staan die dose opgestapel, die trek kom oor 10dae, maar op die eetkamertafel is die bekers en sertfikate wat hulle jongste seun gekry het by verlede week se prysuitdeling. ‘n Stil getuienis van mense wat oor twee dekades ‘n gemeenskap bedien het wat onder hulle gesterf het sonder om self moed te verloor. Hulle bediening sal nie aangeteken word as ‘n sukses deur die kerkgroeibeweging nie, maar in die lewens van honderde mense het hulle oor meer as 20 jaar  karakter getoon wat die toets van die tyd deurstaan het. Die inpak is onuitwisbaar.

Ek het soveel geleer oor waaroor dit gaan nie die Koninkryk. Oor karakter, oor geloof, oor volharding, die groei wat ons nodig het is ‘n groei in karakter. Herman en Prisilla mag die Here julle wonderlik seen in die nuwe gemeente.

…en eendag as die mynaktiwiteite  weer mag terugkom, sal hulle nie al die geriewe van die stad vind nie, maar hulle sal ‘n geloofsgemeenskap vind met ‘n hart en karakter, met ‘n lewenswandel ooreenkomstig die evangelie. (Fil 1:29)

Trackback from your site.

Leave a comment