En toe kom die jong mense…

Written by Frederick on . Posted in Gemeentes

Oppad kerk toe vanoggend wonder ek vir ‘n oomblik of die Laerskool se koor gaan sing, dit is net kinders waar jy kyk. Voor my in die paadjie sit ‘n jong paartjie met ‘n “carry-cot” wat in die paadjie geparkeer is- later merk ek nog een op- geen moederskamer vir hulle nie!

Die kerk is vanoggend stampvol, so vol dat die kinders gevra word om sommer van die begin af voor die kansel te kom sit sodat meer mense kan plek kry. Die gemeente het so sonder dat ek dit agter gekom het jonger geraak, ek moet eintlik vanoggend soek vir die ouer mense- hulle is daar en skynbaar geniet hulle elke oomblik daarvan. Toe een van die babas in die “carry-cot” begin raas is dit ‘n ouma wat die ma aanmoedig om maar te bly sit wat sy ook toe doen so al sussende.

Ek verwonder my aan wat ek beleef, want die handboeke word vanoggend hier verkeerd bewys. Die gebou is histories, banke iewat ongemaklik, die kansel beslis nie kommunikasie vriendelik nie, geen Power Point nie, die prediker is nader aan aftree as wat hy of ons wil toegee. Ons sing net uit die liedboek- nie sprake van ‘n band nie- en daarby sing ons besonder vrot vanoggend, daar is nie genoeg parkeerplek nie- ons moet almal maar soek vir parkering en so kan ek aangaan, wat soek die jonger generasie met hulle kinder hier. Toe ons by die doop kom is dit duidelik dat nie een van die ouerpare in die “grense” van die gemeente woon nie, hulle het gekies om hier te  behoort en hulle kinders hierheen te bring.

Toe ek in die nuusbrief blaai, begin ek om antwoorde te kry-“toevallig”is 95% van die aankondigings alles dinge wat te make het met kinders, ouerskap, tieners en jong mense.  As ek nou ‘n Roeping vanuit die nuusbrief moes skryf sou dit min of meer so klink.  Ons word deur God geroep om te  bestaan ter wille van die volgende generasie aan wie ons geloof in Jesus Christus wil oordra deur woord en daad. Hulle het nie vreeslik snaakse goed begin doen nie, hulle het net die gemeente se hart en wil (lees prioriteite) oopgemaak vir ‘n volgende generasie- en blykbaar voel die volgende generasie dit aan want hulle is daar in hulle honderde, terwyl ek eintlik wonder nou wat soek hulle nou hier.

Oppad huis toe onthou ek van ‘n gesprek met ‘n gemeenteleier so ‘n paar maande gelede waarin hy vertel hoe hy in ‘n gesprek met ‘n leier van die jong mense in gesprek was, ‘n moeilike gesprek warin hulle sukkel om  mekaar te hoor, en toe kom die deurbraak: Ek het skielik besef, vertel hy, dat hierdie jong mens voor my- dalk 40 jaar my junior- iemand is by wie ek baie kan leer en ek het begin om dieper na hom te luister. Aanvanklik het ek gedink ek moet hom bedien, totdat ek ontdek het hy is ientlik hier om my te bedien!

Ek wonder vir ‘n oomblik of ons nie te veel getorring het aan die doing goed van gemeentes terwyl dit wat eintlik die verskil maak die being is nie. Se nou maar hulle het al die teksboek dinge in die gemeente verander-  power point, ‘n band, ander litrugie, maar die leiers het nie hulle harte hulle gesindhede verander nie, sou die jongmense steeds welkom gevoel het en in hulle honderde opgedaag het?

NS In ‘n vorige post het ek ook ‘n bietjie geskryf oor die verassende opbloei van familie-lewe onder die X-generasie gaan kyk gerus!

Trackback from your site.

Leave a comment