{ARGIEF}

Waar en hoe het die Here op verassende maniere deur gemeentes gewerk in 2008?

Tydens die Communitas-spanvergadering -in Nov 2008 – het ons nagedink oor tendense wat ons in gemeentes waarneem. Ons het besluit om oor die volgende geloofsonderskeidende vraag na te dink en verhale te vertel: Waar en hoe het die Here op verassende maniere deur gemeentes gewerk vanjaar?

Ons ervarings en verhale is natuurlik gestempel deur ons dienslewering aan gemeentes die afgelope jaar. Ons is as span genooi om vanjaar met ‘n verskeidenheid van gemeentes en predikante op pad te wees. Ons het dieper probeer kyk as die voor-die-hand-liggende na nuwe tendense of energiepunte wat ons kan help om te besluit waarin ons moet belê vir die toekoms. As Communitas Netwerk vat ons mekaar se hande om in ons dienslewering te fokus op hierdie tendense en geleenthede as gawes voortspruitend uit die werk van die Gees.

Ons is deur hierdie verhale geïnspireer en het weer ontdek dat gemeente hulleself nie kan bou nie, maar dat gemeentes gebou word deur die werk van die Drie-enige God; dat ons tyd nodig het om daaroor na te dink, daaroor te bid en insig te ontwikkel, want dit is nie iets wat ons doen nie, maar iets wat die Here onder ons aan die doen is. Die hoop wat voortspruit uit die werk van die Gees is dikwels ‘n “skugter” hoop. Jy kan dit maklik miskyk, veral as jy te besig is met jou eie agenda. As jy dit opmerk kan jy dit as gawe ontvang en sodoende vennote word van die Drie-enige God. Dan sal ons ontdek dat sy las lig en sy juk sag is.

Waar en hoe  het die Here op verassende maniere deur gemeentes  gewerk vanjaar?
Positiewe ontwikkelings  en tendense soos waargeneem deur die Communitas-span:

  1. Lidmaat inisiatiewe. Ons neem waar dat meer en meer lidmate inisiatief en verantwoordelikheid neem vir die gemeente en ontwikkelinge in gemeentes. In die verhale wat vertel is, het ons opgemerk dat daar ‘n groeiende groep lidmate is wat selfstandig as leiers na vore tree en leiding neem. Ons is verras om op te merk dat lidmate in dikwels moeilike situasies op ‘n stil manier eenvoudig aangaan om hulle roeping uit te leef en sodoende werk hulle mee aan die herstel van gemeentes.
  2. “Nuwe” gemeentes in armoede- en multikulturele en ont-kerklike kontekste: Ons bemerk ‘n klein maar betekenisvolle aantal gemeentes wat besig is om onder die radaskerm na vore te kom.  Dit is gemeentes wat ons in die verlede sou toemaak of laat “terugstig” het met ander gemeentes.  Hierdie gemeentes funksioneer en lyk baie verskillende as die “normale” profiel van ons gemeentes. Dit is nuwe dikwels klein gemeentes of herlewerings van gemeentes in situasies van armoede of multikulturaliteit. Kenmerkend van hierdie gemeentes is hulle institisionele broosheid en hulle bereidheid om risiko’s te neem. Ons merk op dat die leiers hier met ander vrae besig is as gewone hoofstroom gemeentes. In baie gevalle het daar slegs ‘n klein kern van ‘n vorige groter gemeente oorgebly, maar is daar leiers wat met nuwe visie vir die gemeenskap na vore kom. Ons merk op dat hulle dikwels in konflik kom met die institusionele gesig van die kerk, soos die Ring waarin hulle is of buurgemeentes wat met hulle wil saamsmelt, maar is verras met hulle vasberadenheid en deursettingsvermoë. Hule definieer vir ons in ‘n groot mate hoe die toekoms sal en kan lyk. Om met hulle te werk is ‘n voorreg wat ons inspireer en motiveer. Tot ‘n groot mate is hulle die gemeentes wat die roeping en die belydenisse van ons sinodes beliggaam.
  3. Energie  waar daar “oor-grens” blootstelling en kontak is. Ons bemerk dat gemeentes wat buite hulle kerklike grense blootstelling het, itv uitreike of die bou van verhoudings met mense wat nie deel is van die gemeente nie, die gemeentes is met die meeste energie.  Dit is ‘n ander soort energie as wat na vore kom as uit die instandhouding van die gemeente. Ons is verbaas oor die intensiteit en die krag van hierdie energiepunte.
  4. Ons bemerk ‘n groeiende leerbaarheid en bedieningswysheid onder predikante. Ons sien dit nie net raak in die groeiende groep predikante wat kurususse en konferensie bywoon nie, maar veral in die leerbare houding van die leraar. Ons bemerk ‘n bereidheid om nuut te leer en met hoop dat ons gemeentes wel ‘n verskil kan maak.  Wat ons veral opval hier is die genesing wat daar al by baie predikante gekom het, wat hulle instaat stel om met ‘n positiewe leerbare ingesteldheid nuwe uitdagings aan te pak. Hierdie leerbaarheid is in kontras met ‘n naiewe idealisme aan die een kant of ‘n fatalisme aan die ander kant. Ons is verras met die vasberade wysheid en deurdagtheid wat deur hierdie predikante uitgestraal word. In hulle teenwoordigheid het dit moontlik geword om eerlik te wees oor dit wat ons nie weet nie.
  5. Ons bemerk ‘n merkbare nuwe passie onder jonger mense. Ons wou aanvanklik praat oor jonger lidmate maar het toe pogemerk dat dit nie altyd in die eerste plek jomgmense is wat as lidmate inskakel in gemeentes nie. Dit is jong mense met ‘n passie vir die evangelie en ‘n eerlike uitleef daarvan.  Dit beteken nie dat hulle noodwendig “en mass” inskakel by gevestigde bedieninge nie.  Ons  sal steeds saam met hulle moet soek na alternatiewe bedieninge waar hulle kan inskakel. Ons dink egter dat dit nie noodwendig meer so is dat gevestigde kerke ‘n “no-go-area” vir jonger lidmate is nie.  Dit hang grootliks af van die aard van die bediening van die gemeente.
  6. Daar is in gemeentes ‘n duidelike soeke na verdiepte spiritualiteit of ‘n gereedheid om geestelik begelei te word.  Hierdie is dalk van die sterkste tendense wat ons bespeur. Baie van ons verhale het te make gehad hiermee. Ons het opgemerk dat die verhale te make het met leiers wat oor die vermoe beskik om lidmate geestelik te begelei en as leierskap saam geloofsonderskeidende leiding te gee. Opmeklik in hierdie verhale is die be-oefening van geestelike dissiplines deur die leiers. Ons is geinspireer deur die gereedheid van gemeenteleiers om vanuit ‘n geestelike vertrekpunt na te dink oor hulle leierskap in gemeentes.

Dit is ons missie by die Communitas om gemeentes te begelei om hulle roeping te ontdek en hulle gawes te ontsluit. Ons hoop dat hieride waarnemings julle as gemeenteleiers sal prikkel in julle nadenke oor die energie wat die Gees in julle gemeente geskep het vanjaar.