Gemeentelike Identiteitsvorming en die Self

Written by Jannie Swart on . Posted in Gemeentes

Iemand met ‘n passie vir “emergent” eerder as “tradisionele” gestaltes van kerk-wees (soos hy dit self stel) skryf die ander dag op my facebook dat hy gekies het om die kerk op te gee as sy self-opoffering in lydenstyd vanjaar.  Ek dag toe by myself hoe op aarde is dit moontlik om iets wat nie eens aan jouself behoort nie op te gee as ‘n self-erkende self-opoffering?!  Maar ek besef ook toe dadelik dat ek mos nou al goed uitgevind het die afgelope meer as twee jaar dat ek myself in ‘n kultuur bevind met ‘n amper onbeperkte geloof in die moontlikhede en keuses van die self.

Charles Taylor (in “A Secular Age”) vertel die verhaal van moderniteit as ‘n skuif weg van ‘n “enchanted” (pre-modern) na ‘n “disenchanted” wereldbeskouing waarin die “porous” self moes plek maak vir ‘n “buffered” self. ‘n Self vir wie realiteit opgesluit is in wat self ervaar, gedink, gekies, en gedoen kan word, is terselfdertyd afgesluit (“buffered”) van wat moontlik is in die openheid (“porous”) van gemeenskap met ander en die beweging van die Ander.

Jurgen Moltmann (in “The Trinity and the Kingdom”) waarsku teen ‘n dubbele gevaar in die moderne wereld se klem op die moontlikhede van die self.  Aan die een kant voed dit ‘n self-ervaring waarin selfs God beperk word tot “the narrow limits of a fore-given, individual self which makes the self its own prisoner and supplies it merely with self-repititions and self-confirmations.” En wat gewoonlik dan lei tot ‘n kultuur van vrees vir die ander.  Aan die ander kant voed dit ook ‘n self-aktivisme waarin die Ander gemarginaliseer word tot hoogstens ‘n motivering vir die prestasies van die self.  Moltmann skryf dat dit “quickly becomes debased into activism, falling a victim to the pragmatism of the modern meritocratic society which judges by performances.”  In so ‘n scenario is Jesus gewoonlik slegs die etiese voorbeeld vir die praktyk van die self, en verskaf geloof slegs die geestelike inspirasie vir die potensiaal van die self.

Hoe kan gemeentes ruimtes skep vir Christelike identiteitsvorming waarin die Drie-enige God primer die vormende en aktiewe Persoon is, terwyl die self gevorm word as ‘n self-in-gemeenskap met ander en die Ander?  Okechukwu Ogbonnaya (in “On Communitarian Divinity: An African Interpretation of the Trinity”) het my oortuig dat ons vanuit Afrika wereldbeskouings en kontekste unieke geleenthede het vir die moontlikheid om die self-in-gemeenskap eerder as in-sig-self te vorm.  Hierdie lydenstyd bied ons weereens die Christelike hoop van ‘n self-ontlediging (Filippense 2) wat moontlik is in Christus en in gemeenskap met ander.

 

Trackback from your site.

Leave a comment