Gemeentelike Identiteitsvorming en die Vreemdeling

Written by Jannie Swart on . Posted in Gemeentes

Die drie jong mans het so skuins voor my gesit in die erediens twee Sondae terug, en was duidelik nie seker hoe en waar om die liturgie te volg in drie verskillende boeke nie.  Oor lg. verkwalik ek hulle nie, want selfs ek verdwaal nog gereeld in die Episcopalians se liturgie na twee jaar hier.  Maar dit was duidelik dat hulle vreemdelinge in die erediens is, en was ook die enigstes wat nie opgestaan het om die brood en wyn te ontvang nie.

Maar dit was verrassend om te sien dat hulle by die kuierplek opdaag vir koffie en eetgoed na die erediens, en in druk gesprek met soveel moontlik mense verkeer.  Uiteindelik, toe ek ook my beurt kry om aan hulle voorgestel te word, ontmoet ek hulle as drie Moslem studente uit Turkye wat tans aan die Universiteit van Minnesota studeer.  Hulle is vriendelik, baie geinteresseerd in Suid-Afrika, en met ‘n duidelike boodskap aan my:  ons gaan elke Sondag van Christelike gemeente tot gemeente om net ‘n hand van vriendskap en vrede uit te reik na Christene in Amerika.  En ek kon sien hoeveel dit vir die Amerikaanse lidmate beteken in ‘n tyd waar almal maar al te bewus is van die toenemende internasionale spanning na 9/11.

Ek het onwillekeurig gedink aan Arjun Appadurai (ek het in ‘n vorige blog verwys na hierdie Indies gebore kulturele antropoloog) se boek, “Fear of Small Numbers: An Essay on the Geography of Anger”.  In hierdie boek toon die skrywer aan hoe goed ons in sulke tye van hoogspanning is met simplistiese stereotiperings waarin ons onsself oortuig van die bestaan van sg. homogene groepe (soos “die Weste” en “die Moslem wereld”).  Sulke stereotiperings word dan kollektiewe identiteite wat teenoor mekaar opgestel word as “ons” en “hulle”.  Appadurai skryf dat die “ons” identiteit baie maklik ‘n identiteit word “whose social construction and mobilization require the extinction of other, proximate social categories, defined as threats to the very existence of some group, defined as we.”  Hy noem dit “predatory identities” wat “predatory narcissism” tot gevolg het.

In sy boek, “Beyond Christendom: Globalization, African Migration, and the Transformation of the West” (waarna ek in ook in my vorige blog verwys), skryf Jehu Hanciles dat tradisionele Moslems inderdaad aan Islam dink as “a single community of believers” (die “ummah”), maar dat die sosiologiese realiteit baie meer kompleks is.  Hy verwys na statistiek wat toon dat minderheids-Moslemgroepe ‘n derde van die totale Moslem wereldbevolking uitmaak, en dat slegs ongeveer 18% van Moslems in erkende Moslem lande woon.  Dit is veral tipies van hoe die Europese landskap tans verander.  Hy skryf, “living as Muslims in a non-Muslim (or Western) context necessarily stimulates a reformulation of what it means to be Muslim and a member of the ‘ummah’.  This identity formation inevitably draws on the values and norms of the non-Muslim context.”  Sy uiteindelike gevolgtrekking is dat “the encounter with European society may be contributing to the emergence of a form of Islam that is more adaptive and, consequently, more global.”

In omstandighede waar dit nodig voel om jouself voortdurend teen “die vreemdeling” te beskerm (soos in ons land met vlakke van geweld wat so hoog is), is dit baie moeilik om nie in ‘n kultuur van “predatory identities” te beland nie.  In sulke omstandighede is dit ook maklik vir gelowiges om van hulle gemeentes te verwag dat dit veilige gemeenskappe moet wees waar ons nie te veel risiko’s hoef te loop met ‘n blootstelling aan “die vreemdeling” nie.  En tog, sodra dit die geval is, loop ons nie alleen die gevaar dat gemeentes kan meehelp om simplistiese stereotiperings en “predatory identities” te voed nie, maar dat gemeentes se uniek Christelike identiteit vervaag tussendeur die agendas en belange van beskerming.  As Christus se kruisweg ‘n veel moeiliker pad van risiko en blootstelling is ter wille van “die vreemdeling”, en as ons glo dat die kerk nie ‘n sosiale klub vir vriende is nie, maar ‘n gemeenskap vir “die vreemdeling”, hoe vorm dit ons denke in hierdie lydenstyd oor gemeentelike identiteitsvorming te midde van “die vreemdelinge” in ons gemeenskappe?

Trackback from your site.

Leave a comment