It is the best of times … vir gemeentes in Suidelike Afrika (padlangs)

Written by Besoeker on . Posted in Gemeentes

Ons het hierdie week weer Verantwoordelike Vernuwing gehad – vir my altyd lekker, want dan hoor ek weer ‘n klomp nuwe stories oor gemeentes. Ek moes ook twee werkswinkels aanbied, maar verder het ek my gate uit geniet om na al die stories te luister.  Daar het ‘n paar dinge my opgeval as ek terugdink oor die 8 jaar wat ons die konferensie aanbied. Ek het 6 goed raakgesien wat ek my aan verwonder het:

  1. Die entoesiasme vir vernuwing het nie afgeneem nie maar eerder verskerp. Dit is baie min dat ‘n mens vandag kry dat daar oor ‘n tyd van 8 jaar ‘n groeiende belangstelling is om te bly werk aan vernuwing.  Meestal sal mense na 8 jaar moedeloos wees en of dink hulle het genoeg geleer of dat wat hulle leer nie eintlik help nie.  Dit is eintlik merkwaardig, jaar na jaar stroom daar honderde gemeenteleiers na die konferensie- ons het vanjaar 400 gehad.
  2. Die baklei is weg en leerbaarheid het plek gemaak. Hierdie stelling mag julle verbaas so laat ek dit helderder stel.  Ag jaar gelede het baie van die konferensiegangers nog gekom met die idee ons is eintlik reg en weet hoe dit werk, en-moet-nie-vir-my-kom-sê-dit-is-nie-so-nie, houding. Die houding is weg en in die plek daarvan is ‘n openlike erkenning, ons weet nie maar ons wil leer.  Dit is amper nog meer merkwaardig as die eerste stelling.  Die woord luister is kwistig gebruik deur aanbieders en deelnemers en ook be-oefen.
  3. Mense is baie broser en sagter met mekaar – dit mag nou projeksie wees want ek het natuurlik ook in die 8 jaar ouer geword, maar ek dink darem dit is meer as dit. In die 8 jaar het baie van ons moes leer dat die antwoorde wat ons gehad het, het nie so goed gewerk nie, ons het seer gekry, broser geraak, moeg geword, uit gebrand, maar snaaks ek het nie wanhoop ervaar nie, eerder ‘n sagtheid.  Ek het by baie die idee gekry hulle wou sommer net daar wees om ‘n slag ‘n paar mense wat soos hulle voel en die pad met hulle saamloop in die oë kyk – baie het vir mekaar by groet-tyd gesê – Kyk mooi na jouself. Ek moet sê ek begin na 21 jaar in die bediening onder die klomp tuis voel.
  4. God is meer van ‘n lewende werklikheid as 8 jaar gelede – Coenie het in die laat 90’er jare in Transito voorspel dat daar verdiepte spiritualiteit gaan kom. Ek het dit gesien en in ‘n gesprek met prof Kees van der Kooi is dit bevestig – God is ‘n lewende werklikheid vir meer en meer gemeenteleiers.  Daar is baie meer gebid en getuig as 8 jaar gelede. Ek dink ons hoop is baie meer op God as op ons eie vermoëns.
  5. Daar is ‘n nuwe generasie aan wie ons die plek moet gee om ons te leer. By hierdie konferensie het ek jongmense en studente gesien wat hoop het – Russel het dit so mooi gestel toe hy gesê het dat dit die jong generasie is wat die ouer generasie sal moet leer wat die gameplan is. Hulle was min, te min, maar hulle was daar en hulle het gepraat deel geneem – ek het my voorgeneem – ek moet plek maak sodat hulle die leierskap kan neem. Een van my vriende het dit so gestel – ek wil so ‘n halwe tree agter my kinders wees, hulle moet nou voorloop. Ek sal daar wees om hulle te ondersteun, maar dit is nou hulle beurt op die verhoog.
  6. Die kontak tussenVGK en NG lidmate het verbeter en verinnig. VerantwoordelikeVernuwing was ‘n NG inisiatief, maar vanjaar was daar meer VGK gemeenteleiers as ooit, maar belangriker nog is die spontane saampraat, saam leer en die bou van bande. Dit is ironies dat ek dit skryf in ‘n week wat die formele proses tussen ons tot stilstand geknars het.

As ek so na die lysie kyk, moet ek sê elkeen is ‘n wonderwerk, ‘n gawe van die Gees – ek weet nie of ek dit 8 jaar gelede sou verwag het nie. By die laaste werkswinkel vertel ‘n lidmaatleier van Nederlandse gaste wat haar besoek het en so verstom was oor wat alles in hulle gemeente te beur dat hulle haar gevra het om daaroor ‘n artikel te skryf vir hulle kerk se blad. Met die skryf sê sy, het sy ontdek dat daar veel meer lewenskrag in hulle gemeente is as wat sy raakgesien het.

Wat is jou lysie van onverwagse groei in jou gemeente?

Glo my dit is daar, so waar as wat die Gees ‘n lewende werklikheid in die gemeente is.

It is the best of times…

Trackback from your site.

Leave a comment