It’s more than meets the eye?

Written by webmeester on . Posted in Gemeentes

So op die nippertjie kom die mense in, die leë stoele word so bietjie-bietjie minder. Die lofspan begin dapper, dit voel of ek alleen sing en ek en almal wat dit moet hoor, hou nie van my gebrom nie. Ek word hartlik verwelkom.

 

Soos gebruiklik begin ek die erediens met ‘n gebed van die hart. Die stilte kom moeilik, regs voor is ‘n kleinding meer lus vir speel as stilte en oorkant die straat is twee arbeiders luidkeels besig om in ‘n tuin te skoffel of so-iets, terwyl hulle gisteraand se sosiale lewe van plaaslike die township bespreek.

Ons fokus nou ons gedagtes op God, probeer ek vergeefs. Na die stilgebed nooi ek gemeentelede wat behoefte het, om te kom vir ‘n doopbevestiging tydens die lofsang. Niemand het vanoggend vrymoedigheid of behoefte nie. Net voor ons die laaste vers van die tweede lied sing, kom twee vroue, die een emosioneel. Ek maak met die doopwater waterkruise in hulle handpalms en verseker hulle van die onvoorwaarderlike liefde van Christus.

Dan is daar skielik is daar ‘n tou van mense. Hulle hande vertel verhale, sommige is perfek gemanikuur. Ander is growwe arbeiders hande met letsels. Daar is kinderhande met handskoene teen die geniepsige koue. Die Downsindroom dogter se handpalm vertel die verhaal van ‘n chromosoom wat vermis geraak het, almal ryk en arm gelyk in hulle behoefte om die onvoorwaardelike liefde te beleef.

En so hou hulle aan om te kom, rustig én diep geraak staan hulle met oop hande en ‘n blik wat my diep in die oë kyk. Die koue het gewyk, merk ek op, terwyl ek die Woord bedien. Die mense is nie net hier nie, hulle is téénwoordig soos mense wat diep geraak is.

Voor die seën aan die einde van die diens nooi ek hulle vir mekaar dankie te sê met ‘n woord of ‘n handdruk of dalk net ‘n kopknik. En toe gebeur dit, soos ‘n damwal wat breek, spontaan staan hulle byna soos een mens op en reik uit na mekaar, soos mense wat hulle lewe lank daarvoor gewag het. Party lag, ander huil openlik op mekaar se skouers, ander staan lank in ‘n stil omhelsing. Kinders hou hulle pa’s se broekspype vas onseker oor wat hier gebeur.

Hier word nie in tale gepraat nie, geen profesie uitgespreek, en tóg is die teenwoordigheid van die Gees onteenseglik. Dit is eenvoudig nie dieselfde mense wat die kerk koes-koes ingekom het nie. Ek ontvang deur die loop van Maandag ‘n e-pos van my kollega:

Die Gees het my op ‘n wonderlike wyse verras met die gemeente se reaksie tydens die diens.  Ek dink ek het nogal nodig gehad om só verras te word. Die gebeure tydens die erediens bevestig dat die gemeente gereed is vir ‘n tyd van vorming. Ek (weet) dat die deel waar mense na mekaar uitgereik het in die diens, BAIE betekenisvol was.

Dit het alles in ‘n bietjie meer as ‘n uur gebeur, op ‘n bitter koue winteroggend in ‘n kerksaal op ‘n dorp waar die gemeente al baie moes deurmaak, in die NG Kerk.

Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” (Matt 20:18)

Trackback from your site.

Leave a comment