Boomers sal moet leer om oor te gee aan die X generasie

Written by Frederick on . Posted in Gestuurdheid

Gemeentes wat gevorm is in die high-days van die Boomer generasie begin hulle vasloop teen ‘n muur. As ek terugdink was my eerste gewaarwording hiervan toe berigte begin deurkom dat Willow Creek se poging tot die ontwikkeling van ‘n gemeente vir die X-generasie nie so geslaagd was as wat hulle gedink het nie. Dit het my so ‘n jaar of wat geneem om die patroon ook hier by ons waar te neem. Van die mees vernuwende gemeentes in ons land, ek sluit ook hierby onafhanklike gemeentes in wat weggebreek het van denominasies, wat in die afgelope dekade met waagmoed deur groot transformasie gegaan het om die Boomer generasie te bedien, vind skielik dat hulle nie meer vol kerke trek nie. Hoewel daar sekerlik meer oorsake is, dink ek dit is die moeite werd om vir ‘n oomblik die generasie-teorie nader te sleep om te probeer verstaan wat aan die gang is.

Gil Rendell, een van die senior konsultante van Alban instituut het in sy baie goeie boek Multi-generational Congregations  (Alban 2002)  -kyk gerus op die skakel na ‘n opsomming van die boek wat ek ‘n ruk terug gemaak het- belangrike insigte gedeel oor hoe leiers hierdie uitdaging kan ontmoet.  Wat Rendell se boek waardevol maak is dat hy nie net die verskille tussen die generasies beskryf nie, maar idees gee wat leiers te doen staan wat bewus word van  die uitdaging om ‘n boomer gemeente te transformeer tot ‘n gemeente waar die X-ers tuis voel.

Een van die uitdagings volgens Rendell is om oop te wees oor watter kriteria vir “sukses” geld in die gemeente. Op die grond lees ek dit so- Boomers is minder regied as hulle voorgangers maar is oortuig daarvan dat ‘n goedgeorganiseerde gemeente met duidelike strukture en rolle baie goed daarin sal slaag om mense te betrek. So ons boomers doen strategiese beplanning- structure follows strategy- en dan skep ons strukture waarin die strategie wat ons bedink het uitgerol kan word in netjiese fases van 1 tot in die hemel. Ons hou daarvan om aan onsself te dink as leiers wat mense met ons saamneem en lees die leierskap boeke met entoesiasme. Heimlik hoop ons ons kan van die kerkraad ‘n direksie maak met onsself as CEO- dan sal dinge vinniger gebeur en die ding dat die kerk altyd agter-os is sal minder gebeur. Vir ons mede boomers is dit alles baie goeie nuus.

Die probleem is, boomers het nou oud geraak. Soos wat iemand uit ‘n onafhanklike gemeente onlangs vir my se: ons het 15 jaar gelede begin toe ons almal jonk was en nou is dit  Sondag oorwegend grys in die gemeente! Ons weet ons moet aangee, maar ons sien nie die volgende generasie om ons nie. Boomers het gemeentes vol energie geskep vir mense soos hulle. Die X-ers het nie soos ons Boomers in opstand gekom en die kerkraad probeer oorneem nie, hulle het sommer net weggeraak, want hulle stel regtig nie belang in die geveg om leierskap nie. Hulle pa’s en ma’s het die hoofseun ding genoeg gedoen. In meeste gesprekke tussen Boomers is daar groot bekommernis oor die toekoms van die kerk want die volgende generasie wil nie veratnwoordelikheid neem nie, ons weet nie waar hulle is nie, hulle het dan in ons huise groot geword. ‘n X-er dominee vertel vorige week van ‘n lekker groep X-ers wat gereeld in ‘n groep bymekaar kom en goeie gesprekke het oor God en geloof, maar die oomblik as sy begin praat oor inskakeling by die ge-organiseerde kerk is die entoesiasme daarme heen. Hulle stel eenvoudig nie belang in inskakeling by die ge-organiseerde kerk nie, is haar konklusie. Deel daarvan het ek geleer is dat hulle die “power-games” van die Boomer kerk sien lank voordat ons bewus is daarvan dat ons dit speel en hulle wil eenvoudig nie deelneem aan ‘n magsoorname van die gemeente nie, verhoudings is veels te belangrik vir hulle dat hulle bereid is om dit te offer op die altaar van leierskap. Die leiers onder die X-ers gaan nie in die gemeente oorneem by hulle ouers as die spel ‘n magspel gaan bly nie!

So waarin stel hulle X-ers belang? Of beter gese: Wat is die gawe van die X-generasie aan die kerk? Ek gaan nou hier uitgevang word want ek is self ‘n boomer wat probeer om ‘n brug te vorm, maar ek gaan tog probeer:

  • X’ers het dikwels gelowige vriende wat nie meer kerk toe kom nie, en stel belang om met daardie vriende van hulle ‘n gesprek te voer oor geloof en die na-volging van Jesus. Hulle het ‘n natuurlike belangstelling in apologetiek(die verdediging van die christelike leer) en sal moeilik welkom voel in ‘n gemeente waar hulle ongelowige vriende nie ook welkom is nie. Die X-generasie leef in die post-christendom wereld en nie soos die Boomers in ‘n Christendom wereld waarin ons kan veronderstel dat die christelike beskouing van die lewe oral geldig is nie. Ons sal moet leer om ruimte te skep waar mense wat nie die belydenisse onderskryf of ‘n verklaring kan maak van hulle geloof nie, welkom is in die gemeente.
  • X’ers stel meer belang in Jesus-lees die Drie-enige God- as in die ge-organiseerde kerk. Scot Mcnight se boek The Jesus Creed (die skakel neem jou na baie interessante kommentaar op die boek by Amazon) gaan oor die herontdekking van die liefdesgebod en nie die ge-organiseerde kerk nie. Scott skryf self soos volg oor die boek op ‘n blog : 

The discovery of the Jesus Creed–and I’m not saying I discovered it, but that it was a discovery for me–changed what being right meant for me. Being right for Jesus meant a kind of Bible reading and a kind of theology and a kind of behavior that led to loving God and loving others. If you read your Bible or prayed or went to synagogue but weren’t a more loving person, something was wrong. This is what I learned and when I learned it, it sunk in deeply: The aim of accepting Christ, the aim of  the believer’s personal practices of piety, and the aim of everything we are called to do is twofold or it is wrong. The aim is that we are to become those who love God and those who love others. The kingdom vision of Jesus is a kingdom filled up with people who are noted by one word: love. ( ek kan maar net byvoeg dat die boek alreeds 7 herdrukke gehad het toe ek laas getel het)

Niemand van ons sal geloof in Jesus Chritus teenoor die belang van die kerk wil stel nie, maar ek dink die X-generasie bring ‘n belangrike korreksie van ‘n generasie(s) wat genieg was om eers oor die kerk te praat en dan indien wel oor Christus.

  • X’ers stel meer belang in geloof as ‘n “way-of-life” as vaste geloofsoortuigings wat nie geleef word deur die aanhangers daarvan nie. Vra vir Boomer-leiers om hulle gemeente-visie om te skryf as ‘n “Way-of-life” en hulle sa, l of ‘n klompie geloofstellings maak,  of nog erger met ‘n gemeentetruktuur voor ‘n dag kom waarby jy kan inskakel! Ons sal moet leer om ruimtes te skep waar ons mbv die geloofsdissiplines met mekaar in afhanklikheid van die HG op reis kan gaan sonder dat ons vooraf weet wat die uitkoms is.
  • X’ers stel belang in geloofsdissiplines en sluit maklik aan by bewegings wat hulle daartoe verbind. Hulle het ‘n aktiewe belangstelling in die vroee kerk en die ordes wat mense aanmoedig tot ‘n nuwe leefstyl. X’ers sal graag ‘n geloofsleier wil he wat as “spiritual Director” funksioneer as ‘n gemeenteleier wat van “bo” af preek en organiseer.
  • X’ers sal makliker deel neem aan geloofsonderskeiding as strategiese beplanning- en wat dit betref is hulle mi baie nader aan ‘n beweging van dissiples as ons Boomers. Ek leer by hulle om Gods-vrae te vra voordat ons kerkvrae vra en ek moet se dit is of daar ‘n nuwe wereld vir my oopgaan.
  • X’ers is na my mening die mees toegewyde generasie ouers wat dit regtig geniet om saam met hulle kinders te leef en te glo. As ons gemeente nie ruimte maak vir hulle kinders nie- van die “hoof-erediens”- ek bedoel in die erediens en nie in die moederskamer nie, tot by die kerkraadsvergadering sal hulle moeilik by ons bly.

Die uitdaging vir gemeentes wat sukses gehad het met Boomers is eenvoudig:  Waag dit om die gemeente oor te gee aan die leierskap uit die X-generasie, laat hulle julle leer oor wat kerkwees vir hierdie generasie behels, en as hulle ook nie weet nie, vertrou hulle dat hulle dit beter sal kan uitsorteer as boomer leiers. Dit mag beteken dat jy teen jou grein in sal moet leiding gee soos wat die volgende verhaal verduidelik:

In ‘n gemeente waar die jonger generasie nie meer kerk toe kom nie besluit die dominee na vele pogings om weer ‘n groep jong mense bymekaar te kry om hom te help daarme. Sy vertrekpunt is hierdie keer egter anders: Ontwerp sab ‘n erediens waar julle weet ek nie tuis sal voel nie, en as julle wil kan julle my nooi om iets daar te doen wat sal inpas by julle manier van dinge doen! Nodeloos om te se, dit het onmiddellik jongmense getrek wat nog nooit in die kerk was nie!

 

 

 

Trackback from your site.

Leave a comment