{ARGIEF}

Die Morawiërs word die eerste groep wat sendelinge na ander wêrelddele stuur. Met ‘n ledetal van slegs 300 lidmate het hulle reeds sendelinge die wêreld ingestuur . In 1732 stuur hulle twee sendelinge na die Karibiese eilande en in 1737 vir Georg Schmidt na Suidelike Afrika. Schmidt begin die oudste sendingstasie in Suid Afrika – Genadendal. In die vroeë 1800’s was Genadendal, naas Kaapstad, die tweede grootste nedersetting aan die Kaap.

Nou sit ek hier in Morawië saam met Brother Bohuslav, kind van die baie ou en diep Morawiese geloofstradisie, maar ook van ʼn geskiedenis van vervolging – eers deur die RKK en later deur die Kommuniste. Brother Bohuslav vertel van sy geloofshelde: sy skoonpa en die plaaslike biskop wat albei tydens die kommunistiese oorheersing in die gevangenis was. Met hierdie standvastigheid kon hulle bou aan die koninkryk na die val van kommunisme. Tog het twee geslagte verlore gegaan in die proses en die kerk moes byna weer voor begin.

Dit bring my dan by die rede waarom ons hier saam is, om mekaar te bemoedig en die plaaslike kerk te ondersteun. Een van ons gemeente (SA Gemeente in Brittanje) se sendingvennote, Next Level International, werk in Morawië om kerkplanters op te lei en te ondersteun. Hulle versoek was dat ek met hulle sal praat oor missionêre leierskap en selgebaseerde bediening soos ons in die VK het. Ek het hier aangekom met baie ‘wyshede’, maar as jy begin luister na hierdie broeders en susters se stories, kry jy meer as wat JY kom deel het.

Tydens ‘n heerlike ete vertel Brother Kamiel my van die kerk wat hy besig is om te plant. Daar is al drie gesinne en hy is besig om die een gesin te mentor om die plaaslike gypsies te evangeliseer. Die ander gesin word tans toegerus om met bejaardes te werk. Drie gesinne, twee is al reeds in ʼn eie bediening! Sjoe, hy verstaan meer van kerk as wat ek verstaan het oor die jare. In my bediening was daar baie wat hulle lewens vir die Here gegee het, maar hoeveel het aangegaan om ware dissipels te word?

Die gees van die Morawiërs leef steeds sterk hier en as ek Maandag weer die trein, bus en vliegtuig neem terug Londen toe, vat ek ʼn nuwe roeping saam: meer dissipels en minder gelowiges!

Christo R. Benadé

Leraar: Suid Afrikaanse Gemeente Londen