‘n Multi-kullturele gemeente van formaat

Written by Frederick on . Posted in Gestuurdheid

Danie Mouton het onlangs die Park Avenue Metodiste-Gemeente in Minneapolis vir die tweede keer besoek en vertel van sy indrukke van hierdie besondere gemeente.

Stel jou die volgende voor: ‘n middelklas, wit Amerikaanse voorstad waar Afro-Amerikaners in toenemende getalle begin woon. Bendes raak meer aktief in die omgewing, en die woonbuurt verloor sy tradisionele karakter. ‘n Beduidende aantal inwoners, en lidmate van die gemeente, verskuif na ander woonbuurte. Hulle stel dan voor dat die gemeente sy gebou verkoop, en self skuif na ‘n ander woonbuurt. Die leiers besin daaroor en roep ‘n stemming in die gemeente uit: bly ons, of gly ons?  Met ‘n klein meerderheid word besluit om te bly. Onmiddellik bedank sowat 30% van die lidmate en verskuif hul lidmaatskap na ander gemeentes in hul nuwe omgewings. Die getraumatiseerde gemeente rig haarself nou meer intensioneel op die veranderde omgewing. ‘n Jeugpredikant begin kontemporêre, publieke musiekuitvoerings (dis nie halleluja’s en metodiste koortjies nie) op die kerk se parkeerterrein vir die gemeenskap aanbied. Jongmense kom. Hulle ouers kom. Gemeente en gemeenskap maak vriende, en meer en meer Afro-Amerikaners sluit by die gemeente aan.  Die gemeente reik ook uit na die bendes en ander nood, veral die tipiese nood of behoeftes van nuwelinge in ‘n gemeenskap, uit.

Die resultaat is ‘n multi-kullturele gemeente van formaat.

Hierdie is die verhaal van die Park Avenue Metodiste-Gemeente in Minneapolis. Die verhaal speel in die sestiger- en sewentigerjare af. Sedertdien het die gemeente ‘n baken geword waar vreemdelinge vriende word en mense ingeskakel word in egte, lewensveranderende gemeenskap oor ook hierdie soort grense heen.

Die demografiese vloeibaarheid van die omgewing duur voort. In die afgelope dekade het baie Spaans-sprekendes in die gebied kom woon. Die senior leraar het in reaksie hierop Spaans geleer – onder andere in Suid-Amerika gaan woon vir ‘n paar maande – sodat die gemeente effektief kan uitreik na die nuwelinge. ‘n Derde, hoofsaaklik Spaanse, oggenddiens is begin.  Die Spaans-sprekendes wil natuurlik ook graag hul Engels  verbeter, sodat die erediens nie eksklusief Spaans is nie. Baie van hierdie persone verkies ook om die gewone, Engelse eredienste by te woon.

Ek het die gemeente in 2003 die eerste keer besoek, en nou weer – in 2009. Daar is nou ‘n nuwe senior leraar, ‘n Afro-Amerikaner. Die erediens word deur mense van alle denkabre groeperinge bygewoon.  Juis vanweë die karakter van uitreik na nuwelinge, beskik hierdie gemeente net oor die ongelooflike vermoë om vreemdelinge welkom te laat voel – en ons het dit nou weer beleef. Die leierspan verteenwoordig die diversiteit waarheen hulle mik. Die predikantespan het lede uit die blanke, Afro-Amerikaanse en Spaanse gemeenskappe. Engels en Spaans word gebruik – die voorbidding is bv in Spaans gedoen. Tydens die erediens word van jongmense, oumense en ander lidmate gebruik gemaak om voorbidding te doen, die Skrifgedeelte voor te lees, ensovoorts.  Die diversiteit is voortdurend sigbaar en die eenheid in die verskeidenheid ooglopend. Dit beteken dat jyself, met die diversiteit wat jy bring, baie maklik deel word van die handelinge.

Ek het ‘n ander dinge raakgesien wat my diep geraak het:

Die rol van voorbidding vir egte lewensituasies

Tydens ons besoek het die Red River in die staat Noord-Dakota, noord-wes van Minneapolis sy walle oorstroom. Tydens die erediens is daar indringend vir die situasie voorbidding gedoen. ‘n Aantal lidmate het gaan help om sandsakke te pak, sodat die gemeente eerstehandse terugvoer oor die situasie gehad het. Die indringende en egte petisie vir God se hulp was opvallend. Die gemeente het die gebruik dat enigiemand wat iemand anders, of ‘n bepaalde situasie, aan die Here wil opdra op ‘n stadium voor in die kerk kom kniel terwyl daar in die groot groep voorbidding gedoen word. Jy kan gaan om, sê, jou nefie wat aan dwelmmiddels verslaaf is, aan die Here te gaan opdra.  Terwyl die voorganger in die algemeen bid, kan jy jou eie gebede daarby invoeg. Die konneksie wat hierdie simbolies daad skep tussen God, lewe, en die priesterlike intrede van die geloofsgemeenskap by God, is lewensveranderend. Die gebede word ook nie met ‘n morele meerderwaardgheid (“dat sondaars sal regkom”) gedoen nie, maar as ‘n kreet uit die hart vir God se genadige ingrype. Mens en hul nood word ernstig geneem.

Die menslikheid van die teologie

Reeds in Suid-Afrika het dit my al opgeval hoe menslik Metodiste in hul teologie dink – en ek bedoel dit BAIE positief. Die manier van praat oor Christus is nie net ‘n verhewe Christus van bo nie, maar veral ook ‘n Christus van onder, ‘n Christus as egte mens, Een wat verstaan wat dit beteken om mens te wees, Een wat weet wat onder ons velle aangaan.  Tydens die preek in Park Avenue was hierdie perspektief deurslaggewend. Die dominee het vertel hoe Jesus gaan sit en rus het toe hy moeg was (Joh 4).  “Ek is ook nou moeg”, sê die dominee, “en daarom gaan ek ook nou sit”.  Hy vertel hoekom hy moeg is, en ons dink almal aan ons eie moegheid.

Meteens het ons almal toestemming om moeg te wees. Ons mag maar sê ons het nie energie nie, ons vind dit moeilik om die Here te dien en altyd te doen wat reg is – ook omdat ons energie op is. Die taal en operasionele teologie maak dit vir ons moontlik om ons broosheid te toon. En ons vat dit na die Here toe, en vra sy hulp.  Die menslikheid verdring God nie, maar konnekteer ons met die Here.

Die erediens is deurspek daarvan:  ons mag maar gebroke wees, dit nie maak nie, voortdurend beskaamd voel oor ons eie tekortkominge. Jesus neem ons skande weg, en daarom kan ons ons skande eien en daaroor praat.  Die dominee preek daaroor dat God juis by uitstek inisiatief neem om ons op te soek en ons vas te hou. “Meeste van julle ken my storie”, sê Hy, “julle weet in watter moeras ek was en hoe God my bly opsoek het en my uiteindelik opgetel het.  Ek wil dit nooit vergeet nie, want dit herinner my: ek moet ook só wees, soos Jesus – bly opsoek en bly optel.  God nooi julle uit om ook so te wees.”

Na my mening is die verhewenheid van ons eie teologiese perspektiewe oor Christus ‘n groot struikelblok in ons konneksie met mense waar hulle is. Ons moet ‘n slag weer die Hebreërbrief se Christologie ernstig neem.  Die Een wat opgewek is anderkant die dood en verhef is tot die Regterhand van God, en nou die leisels van die wêreld vashou, is óók ‘n mens, nou nog, en tree in vir ons by die Vader.
Waar dit in ‘n erediens beliggaam word, het dit ‘n kragtige uitwerking.

Die deelname van lidmate

Die erediens was deurspek van die deelname van lidmate. Die lofprysing is deur die aanbiddingsleier en koor gelei. Die wydingsgebed na die dankoffers deur ‘n jong lidmaat. ‘n Klein dogtertjie het ‘n lied saam met die koor gesing. Die voorbidding is deur ‘n Spaanssprekende en Engelsprekende lidmaat-paar gelei. Die afkondigings is deur ‘n paar lidmate hanteer. Die teks is deur iemand anders voorgelees.  Hierdie is diverse mense – wit, swart, bruin.  Die erediens bly voortdurend vars, interessant en inklusief: gasvry en verwelkomend.

Trackback from your site.

Comments (1)

Leave a comment