Op reis saam met Gobabs

Written by webmeester on . Posted in Gestuurdheid

Ons kan erken dat binne ons sekere vrese, sekere voorbehoude, sekere onwilligheid sit wat die reis saam met ons landgenote bemoeilik .  Ons kan erken da t ons ook gelaat is met letsels wat ons menswees aangetas het , wat ons soms verhinder om sonder vooroordele na ander te kyk.

Verder is daar dele van ander se kultuur en Godsbeskouing waarvan ons kan leer as ons bereid is om te erken dat ons Westerse of ons Afrika of watter ander verstaan ookal,  nie die alfa en omega is nie: dat daar belangrike aspekte van menswees is waarvan ons vergeet het of nog kan leer. Dinge soos respek vir die ouderdom, vir die wysheid van ouer mense, aspekte rondom rou  oor geliefdes, die omgang met tyd, dissipline en aanvaarding van gesagstrukture, om slegs enkeles aan te raak.

Ons kan begin leer van ons broers en susters wat ‘n belydenis soos die Belharbelydenis tot stand kon bring vanuit hulle verstaan van die landskap – ‘n verstaan wat ander vanuit hulle raamwerk nie kon hê nie. Ons kan daaroor juig dat hierdie dokument ‘n model kan wees vir ander wêrelddele wat met dieselfde problematiek worstel.

Daar is in hierdie land baie verskillende sosiale groeperinge en stande wat elkeen vanuit hulle verwysingsraamwerk ander dele van die landskap ken. Ons leer so graag by suksesvolle mense – neem lesse vir sukses uit hulle boeke. En tog kan ons by die armstes en die haweloses soveel  leer. Ek onthou jare gelede, terwyl ekself met depressie worstel en vergeet het om te lag, hoe ‘n groep haweloses verbyloop en heerlik en kommervry loop en skaterlag. Dadelik het ek besef ek kan by hulle leer: om die lewe nie so ernstig op te neem dat ek nie meer tyd maak om lekker, uit die maag uit, te lag nie.

In ‘n tyd waar baie van ons volwasse kinders noodgedwonge na hulle ouerhuis moet terug keer en ook waar bejaarde ouers by hulle kinders moet intrek met aanpassings vir beide geslagte, kan ons leer by ander etniese en sosiale  groepe waar sulke saambly die reël eerder as die uitsondering is. Watter huisreëls geld, hoe hanteer hulle konfliks, ensovoorts?

Ons hoor daagliks voorbeelde van die mens se vermoë om uit te styg bo beperkende omstandighede  deur die verhale van gestremdes – Gobabs by wie ons veel van die landskap van die menslike gees kan leer.

Mense van ‘n ander generasie : kinders, X’ers, boomers, seniors – dan is daar nou al die Y-generasie ook – sien en ervaar dieselfde landskap anders. Frederick Marais het ‘n interessante gesprek hieromtrent begin: dat die  boomers die stokkie moet aangee na die X’ers.  http://www.communitas.co.za/blogs/padlangs/gestuurdheid/2396-boomers-sal-moet-ler-om-oor-te-gee-aan-die-x-generasie?lang .  Die onmiddelike reaksie is weer: beide groepe kan by mekaar leer.  Die ouer geslag besit ‘n wysheid het wat steeds gebruik moet word – wysheid wat oor jare heen kom. Dat hulle tegnologies “agtergeblewe” geraak het, ontneem hulle nie van hierdie wysheid nie. Die gesprek wat Frederick aan die gang gesit het, raak die kerk – daar  is natuurlik baie uitdagings in die werkplek en op sosiale vlakke ook.  Wat geloofsake betref, tree die X’ers (of dan sommiges van hulle – sien ook  by ander denominasies hieronder) – meer  intuïtief op: “The Bible says it, that settles it”. Hulle praat meestal Engels, veral Amerikaanse Engels en haal gewoonlik ook uit die Engelse Bybel aan. Vir “teologie” het hulle nie tyd nie. Die teologie van die boomers word gesien as die rede vir die geestelike doodsheid in die tradisionele kerke.  Kan die boomers van die X’ers se  vuur oorneem en die X’ers by die boomers se nadenke, stukture en organisasie baat vind?

Sosiale media is aan die orde van die dag. Die georganiseerde kerklike samekomste trek aan die agterste speen wat die aandag van die jonger geslag betref. Die onmiddelike kommunikasie van facebook, twitter, ensovoorts  is meer aanloklik. Dit het Communitas ook aanvaar.

Selfs jong kinders kan dele van die landskap vir ons oopmaak byvoorbeeld deur hulle, sal ons dit noem, onbesoelde kyk ( waar dit nie weer deur volwassenes aangeraak is nie)  na ander en hulle kinderlike aanvaarding en geloof – die “glo soos ‘n kind”?

Mense van ander geslagte, ook van ander seksuele oriëntasie dra ‘n kennis van die landskap waarvan ons kan leer. Die afgelope dekades se vroue teoloë het getoon dat daar soveel onontginde kennis oor God nog braak gelê het omdat slegs vanuit ‘n manlike perspektief oor God en geloof gepraat is: eeue lank.

Baie versigtig begin ons verstellings maak aan ons houding teenoor mense van ander seksuele oriëntasies, besef ons dat hulle ons kan leer oor God se liefde vir al sy kinders en ook dat ons weer sal moet dink oor die verhoudings tussen mense wat soms heel anders verloop as ons vooropgestelde idees.

As broers en susters van een Vader, het ons heelwat om te leer van die Christelike landskap van ons geloofreis by mense van ander denominasies as ons. Hiervan is daar talle voorbeelde: die meditatiewe aanslag tesame met simboliek van sekere groepe, die meer emosionele aanbiddingstyle van ander, die klem op die rasionele, die intuïtiewe verstaan van God se liefde, die natuurmens se belewenis van die Skepper – die lys kan lank raak.

Ons kan ook die landskap beter verstaan deur te luister na mense van ander gelowe.  Ek kyk onlangs ‘n kort videogreep op YouTube (http://www.youtube.com/watch?v=1e4kaTG5Vjk)  van ‘n sekere Father Joe – ‘n moeder Theresatipe – wat in een van die haglikste krotbuurte van Bangkok werk. Hy sê waar hy werk, is hy omring van “pious Buddhists and other religions and sometimes some pious Muslims.”  Ons praat van vooruitgang, maar soms wonder hy: “they are religious people, they go to the temple, they have moral standards” en dan eindig hy sy praatjie met:  “I wish all of our Catholics could be like that. Because this (wysende na die krotbuurt) is real.”

Volgende keer as jy te doen kry met iemand wat jy as “anders” beskou, gedenk Gobab: dink oor wat jy kan leer by die ander en hoe jy diepersoon kan seën. Op hierdie reis het ons mekaar nodig.

‘n Laaste gedagte: Die volk het die wolkkolom gehad om hulle te lei op hulle pad. Wat meer het hulle nodig gehad? En tog het Moses besef dat Gobab met sy ervaring  van die woestyn vir hulle baie kon beteken. Kan ons tevrede wees met slegs ons verstaan van God, ons teologie, ons belydenisse of het ons ook ander se insigte en insette nodig op ons reis?

Trackback from your site.

Leave a comment