{ARGIEF}

Oorspronklik geplaas in Die By bylaag tot die Die Burger op Saterdag 6 Maart 2010

Ek en Frans Jaftha het mekaar in September in Oudtshoorn se begraafplaas raakgeloop. Dit sou nie sommer in die ou Suid-Afrika gebeur het nie, want toe was selfs die dooies apart.  Maar nou lê Frans se vrou so skuins oorkant my ouers.  Trouens, ‘n mens sou kon sê dat mevrou Jaftha se graf, en die grafte van my ouers en grootouers die punte van ‘n perfekte driehoek is. 

Frans en ek was altwee aan’t werk. Hy het sy vrou se graf kom versorg en ek en my suster het ons ouers se grafte kom “oordoen”, soos in renovate. Jy sien, ‘n graf hoef nie soos ‘n heilige monument ongestoord gelaat te word nie. Dis mos óns wat die grafte laat opmaak het. Ons kan dit mos weer afmaak. Én oormaak. Die swart en grou graniet begraafplase is so dood, so onoorspronlik, so kitsch. Dit sê niks van die mense wat ses voet ses daaronder toegemessel is nie.  Net “rus in vrede”, wat dit ook al mag beteken.

My pa en ma was altwee lief vir tuinmaak.  As kinders was nie vir ons vreemd dat mense stadiger verby ons huis in St. Johnstraat gery het nie. Die mosaïek van cinerarias, gazalias, gesiggies, stink afrikaners en ‘n klomp ander soorte blomme wás iets om na te kyk. Ons moes na skool blomplantjies verkoop en snags slakke vang, want leef en beef het by Chris en Annatjie Spies kom plantjies koop.  ‘n Sent ‘n plantjie. Daarmee moes vier kinders Stellenbosch toe. 

Oorgedoende grafte moet dus mooi wees.  Dit moet iets sê van my pa en ma, van eenvoud, lewe, plante, Stellenbosch, en Oudtshoorn.

Eers het ons die grafsteen en fondamente, die doodse grys gedoente, heeltemal afgebreek. Toe lê ons ‘n tuin aan met rivierklippe, wit kwartsklippe en aalwyne wat ons op my pa se grootwordplaas gaan haal het.

Terwyl ek die kompos inwerk, praat ek met Pa en Ma.  “Ja Pa, ek spit nog soos Pa my geleer het. Dis nou wel nie fyn tuin nie, maar wat sê julle van die aalwyne? Dis darem ‘n bietjie lewe en kleur, nie waar nie? En wat sê julle van die groot klip en naamplaatjie wat ek en Marié uit Stellenbosch saamgebring het? Ons is darem nog oraait deur die genade. Dankie vir alles…”

Frans het oorgestap en kom kennis maak. “Meneer, jy moenie bekommerd wees nie. Ek sal na die grafte kyk.” 

Sommer net so. Sonder om iets in ruil te verwag. Sonder dat hy ons ken.

My ouers sou hom waarskynlik nooit genooi het om ‘n koppie tee by ons te kom drink nie, want hy was nie “van ons soort nie”. Frans weet dit, maar dit maak nie meer saak nie.

Net na Kersfees het ek by Frans in Toekomsrus, so skuins oorkant die begraafplaas, ‘n draai gemaak. Ek ontmoet sy kinders en kleinkinders. Hulle ontvang my met hartlikheid soos net Oudtshoorn se mense kan.

Ons blaai deur ou foto-albums en praat oor sy vrou en my ouers en die gat wat die dood kom uitruk het. Ek sien verbleikte foto’s van ‘n netjiese, trotse, agtermekaar ambagsman wat met niks minder as die beste tevrede was nie. Hy praat oor die ou dae (“ek het baie vir die Spiese en Schoemans in Schoemanshoek gewerk…”) en die toekoms (“ek weet nie aldag so mooi van die nuwe Suid-Afrika nie”) en die kinders (“hulle leer baie mooi op skool”).

Dis tyd om te ry.

“Nee, jy kan nie so gou weer ry nie, jy moet eers nóg koeldrank drink!”

Hy kyk my motorfiets so en glip buitekamer toe.  Met ‘n breë glimlag haal hy ‘n valhelm uit ‘n stowwerige plastieksak.

“Ek het altyd geweet ek gaan dit weer nodig kry”, sê hy met ‘n knipoog. “Vat my gou vir ‘n spin lat ek vir jou die grafte gaan wys.” 

Dis moeite vir ‘n ou man om agterop die BMW te klim, maar ons lag soos kinders.  Ek gee die bike sommer ekstra vet.

Die aalwyne het al geblom en daar is nie ‘n enkele onkruid op die graf nie.

“Frans, jy is ‘n baie goeie mens.  Ek weet nie hoe om dankie te sê nie.”

Toe ek hom aflaai sê hy: “Ek het klaar met die kinders gepraat. As ek nie meer daar is nie, sal een van hulle my werk voortsit.  Ek weet nou waar jou oupa en ouma lê. Ek sal sommer ook ‘n ogie daar gooi.”

Ek wens ek was soos Frans. Ek bewonder hom. My pa en ma was ook so.  Hulle was altyd gasvry en vrygewig, veral teenoor mense van “ons eie soort”. Wie weet, miskien is Pa en Ma en Ralie Jaftha teen hierdie tyd dik vriende.  Hulle is mos immers bure, nie waar nie? Oudtshoorn se mense!