{ARGIEF}

Ek het die afgelope week tyd saam met 30 Malawiese predikante en studente van die CCAP Synod Nkhoma deurgebring. Ons het n intense tyd saam gehad, saam ge-Wandel in die Woord, gebid, gepraat, gesing, geëet, gelag (baie gelag), gehoop en bo alles sam gedroom oor ‘n kerk wat as gestuur kan deelneem aan die koms van die Koninkryk. Dit was my eerste keer in Malawi en het ek voor die tyd geweet ek is die een wat die meeste gaan leer en dit was ook die geval.

Uitsig vanaf Nkhoma bergHier is die vrae wat ek mee terugkom na Stellenbosch(hoekom praat ons altyd hieroor asof dit nie ook Afrika is nie?).

  1. Is geloof in die eerste plek iets wat ons verstaan en dan beleef. Is die rede die beste manier om uitdrukking te gee aan die ervarings van binne ‘n (geloofs)verhouding(s)? Is ons rasionele vertrekpunte as ons as predikante en teoloë oor geloof praat, nie dit wat die virus van geloofs-veragtering tot gevolg het nie. Wat maak dat ons meer sukkel met geloofsdissiplines as baie lidmate. Dit is onnodig om by te voeg dat dit natuurlik nie beteken dat ek dink ons moet rasionaliteit uitsluit of enigsins verdag maak nie. Ek wonder net oor wat met ons gebeur as ons rasionaliteit die belangrikste of selfs toegangsroete maak.
  2. Tot watter mate is my liniêre verstaan van tyd –verlede, hede, toekoms nie inperkend tot my geloof en veral my hoop oor wat God kan doen en belangriker nog oor Wie God is nie? Tot watter mate kan die meer sikliese tydsbegrip van Afrika my help om van my Westerse neuroses oor die toekoms ontslae te raak. Sit ek nie tog meer vasgevang deur die vrees dat die toekoms een of ander vorm van chaos gaan oplewer wat ons almal gaan verswelg, wat in effek God se sorgende teenwoordigheid uitsluit nie. Tot watter mate kan ek hier gehelp word om my heil meer te vind in ‘n verstaansraamwerk wat my help om ook aan my be-ing te werk en nie net met do-ing besig te wees nie?
  3. Wat van my kultuur as Hugenoot/Westerling/Afrikaner(gebore in die Karoo)/Afrikaan het ek al bewustelik prysgegee ter wille vd Evangelie? In gesprek met die hierdie broers in Malawi is dit duidelik dat daar by hulle n groter gewilligheid is kultuur-goed prys te gee ter wille vd evangelie. Is ek nie grootliks blind vir die foute/weerstande teen die evangelie se mees basiese waardes nie. Is ‘n goeie westerling ook ‘n goeie navolger van Christus? Natuurlik nie! Ek onthou weer Newbigin se opmerking dat die Westerse kultuur die mees weerstandige kultuur tot die evangelie is. Wat is dit wat my weerstandig maak teen die Evangelie wat ek nie raaksien nie?
  4. Is geloof in Jesus Christus nie vir baie van ons Westerlinge ‘n poging om ons te panser teen ons kwesbaarheid nie? Is dit nie ons Westerlinge se aversie aan afhanklikheid van ander wat maak dat ons so moeilik gemeenskap skep en ons heil soek in ons individualiteit nie. Kan dit die rede wees waarom ons ten diepste weerstand het teen eenwording met die lyding van Jesus Christus.
  5. Maak my wêreld-beskouing ruimte vir die konkrete inbraak vd Koninkryk deur die werk vd die Woord en Gees, of rasionaliseer ek hierdie bo-natuurlike Goddelike inbrake met politieke-, ekonomiese-, kulturele- en sosiologiese-lense? Is dit alla  George Claasen intelektuele luiheid om te leef in die verwagting dat die Gees ons wêreld transformeer.
  6. Kan ons kerkwees bedink sonder geld? Daar is soveel voorbeelde in Afrika waar die groei vd die kerk nie afhanklik is vd die finansiele vermoë van die kerk nie
  7. Kan ek nog onbevange droom oor die nuwe wat oppad is en kan inbreek in ons lewe, of het ek eenvoudig te sinies daarvoor geword. Aan die einde van die week deel die leiers vd die kerk hulle drome met ons- dit is ambisieus en op die oog af onbereikbaar. Vlugtig dink ek aan my voorouers in die Noord-Kaap wat ook met baie min teen alles in gehoop het en so in veraf en onherbergsame omgewings gemeenskappe tevestig het. Ek hoor nie meer mense droom in my gemeenskap nie. Het ons nog die vermoe om onbevange gevang te word deur die droom v n nuwe wereld
  8. Hoekom moet ek Malawi toe gaan om aan hierdie vrae te dink?