Weerhou ons Gereformeerde DNA ons daarvan om ‘n missionêre kerk te wees?

Written by Frederick on . Posted in Gestuurdheid

Ons soek so baie na nuwe missionêre praktyke, plekke om kontak te maak met nog nie-gelowiges en geleenthede om te dien. Gemeentelede word week na week aangemoedig om ‘n hart te hê vir die nood van mense en hulle siele. Tog is dit die uitsondering as gemeentelede die diepte van die Missio Dei verstaan.

Ek vermoed dat die antwoord baie komplekser is as wat ek kan begryp. Tog is daar ‘n aspek van die ontwikkeling van ons teologie wat, ek glo, ‘n rol speel in die uitdaging wat ons het om die kerk te skuif. Dit begin by ‘n kerk wie se DNA gevorm is tydens die Christendom-era. Die era van die Christendom begin by keiser Konstantyn (313 n.C.) wat die Christelike geloof amptelike status binne die Romeinse Ryk gegee het. Met die tyd het die invloed van die Christelike geloof toegeneem tot op die punt waar die Christelike geloof ‘n sentrale plek in die ontwikkelde wêreld gehad het. Die samelewing is beskryf as ‘n Christelike samelewing en gemeenskappe is opgedeel in gemeentes wat ‘n hele land gedek het. In die Engelse konteks word daar steeds van ‘n Parish Church (Church of England) gepraat, wat die dorp se amptelike kerk is. Ironies genoeg is die Parish Counsel in ons dorp nie die kerkraad nie, maar die stadsraad. Vandag nog ontvang ons saam met al die ander inwoners van die dorp die weeklikse afkondiging van die Parish Church, al ons is nie lidmate van die kerk nie. Die eredienste word deur ongeveer 60 mense uit die 1 600 gesinne in die dorp bygewoon, tog is dit die Parish Church. In die Suid-Afrikaanse konteks is dit nie veel anders nie, met gemeentes wat nog ‘n baie sterk geografiese karakter het en daar kwalik ‘n hektaar is wat nie binne die grense van een van die gereformeerde kerke val nie.

Die probleem is egter nie dat die Christelike geloof so goed gegroei het nie, maar wel dat ons as kerk beperk word deur ons DNA wat in hierdie tyd gevorm is. DNA wat ons Ekklesiologie en Missiologie gevorm het. ‘n Ekklesiologie wat gebou is op die feit dat almal wat hier bly, Christene is, en ‘n Missiologie wat meen ons missionêre taak is daar ver. Tot dusver seker niks nuuts vir die meeste van julle nie, maar kyk net hoe diep is hierdie konteks in ons DNA ingeprent. Ons is ‘n kerk wat soos die meeste hoofstroomkerke gebou is op ‘n belydenisgrondslag, ‘n belydenisgrondslag waardeur ons gelei en geïnspireer is. Die feit is dat al ons belydenisse, behalwe twee, binne ‘n Christendomkonteks geskryf is. Die uitsonderings is die Apostoliese geloofsbelydenis wat sy ontstaan in die vroeë Christelike gemeenskap het. ‘n Vroeë vorm van die belydenis word reeds gesien in die Interrogatory Creed of Hippolytus (215 n.C.), alhoewel elemente van die belydenis reeds teen 100 n.C. in die Christelike gemeenskap teenwoordig was. Die Belharbelydenis sou ook genoem kon word as ‘n belydenis wat sy ontstaan het in die doodsnikke van die Christendom[2].

Die res van die belydenisskrifte is gevorm in ‘n konteks waar die Christelike geloof dominant was. Die belydenisse is opgestel om een Christelike groep se oortuiging te verdedig teenoor ‘n ander Christelike groep (oor die ortodoksie van beide groepe sal lank gedebatteer kan word). Die Christendomkonteks vorm die geskrifte en lei onder andere tot die afwesigheid van ‘n sterk missionêre karakter.

Die konteks het geskuif. Ons leef in ‘n post-Christendom konteks, tog het ons steeds ‘n DNA wat binne die Christendom gevorm is. Of die belydenisskrifte nog ‘n rol speel binne ons kerk, is ook ‘n vraag. Die belydenisskrifte speel moontlik nie ‘n groot rol in die geestelike lewe van die deursneelidmaat nie. Tog ontlok die belydenisskrifte ‘n sterk emosionele reaksie sodra daar gepraat word oor die byvoeg van nog ‘n belydenisskrif. Wat wel waar is, is dat die belydenisskrifte ons oor tyd gevorm het, ouer lidmate het die belydenisskrifte nog uit hulle koppe geleer, leraars moet die belydenisskrifte onderteken en op sinodale vlak word die belydenisskrifte gebruik om argumente te versterk. Die belydenisskrifte het oor tyd deel van die kollektiewe onbewuste van ons kerk geword. ‘n Kollektiewe onbewuste wat die kerk se roeping sien binne ‘n Christendom-konteks sonder ‘n missionêre wese.

As die belydenisskrifte dan nie ‘n sterk missionêre karakter het nie, hoe gaan ons dan ‘n kerk skuif om missionêr te leef in ‘n sekulêre wêreld? Het ons nie dalk ‘n nuwe DNA of kollektiewe onbewuste nodig nie? Wat opval, is dat ons vrylik oor Skrifgesag praat, maar bitter min oor die gesag van die belydenisskrifte. Ek maak vir myself twee stories daaroor op, aan die een kant dat die belydenisskrifte eintlik nie ‘n rol speel nie en dat niemand moeite doen om lewe te blaas in dooie argumente nie, of aan die ander kant dat die belydenisskrifte so ‘n heilige koei is dat ons eers die gesag van die Bybel sal aftakel voor ons aan die belydenisskrifte sal raak.

Op ‘n baie praktiese manier vind hierdie gesprek in my en ons ander leiers se binneste plaas. Die gemeentewyk (Suid-Afrikaanse gemeente in Loughton, Brittanje) waarvoor ek verantwoordelik is, het oor baie jare ‘n goeie, respekvolle verhouding gehandhaaf met die Doxa Deo-gemeente wat nie ver van ons af eredienste hou nie. Ons bedien dieselfde populasie (meestal expat Suid-Afrikaners), het dieselfde uitdaging (Suid-Afrikaanse gemeenskap krimp drasties weens die emigrasie na SA en ander wêrelddele, en kerkwees in ‘n aggressiewe sekulêre konteks). Oor die afgelope tyd het die Here ons gelei om te kyk waar ons mekaar kan help om kerk te wees. Die uiteinde van die saak was dat dit moontlik geword het vir ons om een gebou te deel en op afwisselende Sondae dienste te hou. Ons was vantevore net in staat om twee dienste per maand by die betrokke bedieningspunt te hou omdat ek ook die SA Gemeente se Birminghamwyk bedien en die ander Sondae daar preek.

Die gesprekke wat tussen ons leiers plaasgevind het, het gewissel tussen: “Dit kom van die Here af en ons moet volg”, tot: “Glo ons nie te verskillend nie?” Tog was daar ‘n besef dat ons gedeelde uitdagings groter is as ons verskille. Ons het nie meer die luuksheid om alleen ‘n pad te stap nie. Albei gemeentes leef op die periferie van die samelewing en die finansiële en praktiese uitdagings is te groot om alleen regop te bly staan. Met vrees en bewing het ons en hulle leiers besluit om goeie bure te word, maar nie te trou nie. Ons het besef dat die volgende drie sake die proses gaan dra:

  • Dat dit God se wil is dat daar groter eenheid in Sy kerk moet wees, en dat ons die visie moet deel.
  • Dat daar in vertroue verhoudings gebou moet word.
  • Dat ons met respek die verskeidenheid tussen ons moet vier.

Daar was wel nooit behoefte aan strukturele of teologiese eenheid nie. Die gemeentes bly voortbestaan as twee identiteite met hulle eie leiers. Tog deel ons infrastruktuur en eredienstye. En toe begin iets moois gebeur: die twee gemeentes se lidmate begin oor en weer mekaar se dienste besoek, en verhoudings word gebou. Gelowiges ontdek vir die eerste keer ander gelowiges in hulle omgewing. Die proses het by sommige lidmate vrese wakker gemaak, maar die getuienis van die proses begin nou die vrese aanspreek. Mure word afgebreek, hartseer word gedeel en die kerk se getuienis word sterker.

Wat uit die verhouding sal kom, sal ons moet sien, ons weet net dat ons moes waag. Wat ek wel weet, is dat ons huidige belydenisgrondslag my nie gehelp het om te waag nie. Dalk moet ons nie net praat oor die byvoeg van ‘n nuwe belydenis nie, maar sommer ook oor die vraag of ons huidige belydenisgrondslag ons die DNA gee om missionêre kerk te wees in ‘n post-Christelike wêreld.



[1] Christo Benadé is leraar van die Suid Afrikaanse Gemeente Londen en is ook besig met ‘n Ph.D. oor Missionêre leierskap aan die Radboud Universiteit te Nijmegen in Nederland.

[2] As ons die konteks wyer trek, sou ook gepraat kon word van die Barmen verklaring en van die belydenisskrifte van die gereformeerde kerke in bv. Korea, wat ‘n sterker missionêre karakter vertoon. Vir die doel van hierdie artikel slegs die binne die Suid Afrikaanse konteks.

Trackback from your site.

Leave a comment