{ARGIEF}

Die United Reformed Church, Metodiste kerk en Anglikaanse kerk in die geografiese gebied het ’n ekumeniese samewerkingsooreenkoms wat maak dat hulle leraars oor en weer preek.  Daar is baie gemeentes vakant en nie in staat om ’n voltydse predikant te bekostig nie.  Naas die voltydse leraars is daar ook ’n aantal geakkrediteerde predikers en besoekende leraars.  Almal word ingedeel om die klompie gemeentes te bepreek.

Van Februarie 2009 is ek ’n “besoekende predikant” en preek elke keer op ’n ander plek.  Ek het myself beskikbaar gestel om een keer per maand in die “ring” te preek en as vrywilliger gemeenskapsdiens te lewer …

Vanuit my agtergrond en passie vra ek toe of ek nie maar elke keer by dieselfde gemeente kan preek nie.  Dis nou die een keer per maand.  Ek was trouens ook bereid om onder toesig van die “konsulent” ’n gesprek met die leiers aan te knoop oor die gemeente se plek in die samelewing en hulle pad vorentoe.  Ek praat nou van gemeentes waar daar op ’n Sondag miskien 20 mense opdaag vir ’n erediens.

Die antwoord was:  Nee, dis nie regverdig teenoor die ander gemeentes nie.  Almal moet dieselfde behandel word.

En so is ek vasgevang in ’n instandhoudingspraktyk waar almal of saam groei of saam besig is om onder te gaan. 

Dit het my nogal aan die dink gesit oor kerkbegrip en geestelike leierskap.  Lyk my dit kan deur kultuur gekaap word en die moontlikheid van nuwe perspektiewe en praktyke verhinder.  En dis nie net die Engelse wat so maak nie …

Jan Bisschoff