Hier is nie leiers nie!

Written by Besoeker on . Posted in Leierskap

Ek verwonder my daaraan dat sekere restaurante werk en ander nie. Daar is byna ‘n mitiese element wat maak dat sommige nuwe restaurant byna onmmiddelik nadat dit oopgemaak het vol mense sit- ek wonder altyd waar die mense vandaan kom, of liewer wat hulle dan in die verlede gedoen het voordat hulle hierheen gekom het?!

Dan kry jy ander restuarante- alles is in plek- die menu, die wynlys, die tafels, dekor, lekker geur van koffie in die lug- goeie musiek, nie te hard nie- maar daar kom nie mense nie. Na ‘n rukkie kom daar  spesiale aanbiedings, vir ‘n rukkie ‘n paar meer mense, dan is dit maar weer leeg soos voorheen – so ‘n 40dae special treatment vir die kliente. Soms is dit dan die finale doodskoot- die laaste bietjie energie en kapitaal is opgebruik en die plek moet toemaak.

Met gemeentes werk dit ook soms so- hulle kommunikasie(lees bemarking) is in plek, die kerk is goed versorg (lees dekor), daar is lekker filter koffie na die tyd- my gunsteling, goeie preke, rotsvaste strukture, maar mense bly besoekers en meld nie aan by die “leierskap tafel”van die gemeente nie.  In gesprekke hieroor is die verskoning dikwels- hier is nie leiers nie!  As ek dit hoor weet ek, die magic ontbreek soos in baie nuwe restaurante.

Ek was die week met ‘n paar predikante in ‘n intense gesprek hieroor.  Die konteks was ‘n klompie SA predikante wat mbv Stigting Zebra in Nederland oa ‘n kursus saam met Nederlandse kollegas bygewoon het. Ons was 18 altesaam.  Die gesprek het gegaan oor gesekulariseerde Nederland waar die gemeentes nie meer leiers het nie, ja en ook oor Suid-Afrikaanse gemeentes waar ons ook dikwels voel daar is nie leiers nie. Ek moes die vrae vra- en het bly vra hoekom, omdat ek ook oor hierdie fenomeen wonder. Want sien ek glo- noem my maar naief- dat leierskap ‘n gawe van die Gees is wat aan die gemeente gegee word. Ek glo meer hieraan as die inpak van kultuur, sekularisasie, geleerdheid, opvoedingsvlak ens. Ek glo eenvoudig die Gees gee leiers aan die gemeente. So as daar nie leiers is nie, is die fout nie die mense nie maar le dit in die gemeente en die huidige leiers.  Daarom bly ek vra: waarom se ons dikwels in die kerk en gemeentes:     Hier is nie leiers nie!

Die gesprek neem ‘n interessante onverwagse wending, een van die predikante is van oordeel dat ons nie lief genoeg vir die lidmate is nie. Ja maar glo jy in jou lidmate, vra ek so uit die heup- of soos die Nderlanders se- ek skiet met slappe polse! Glo jy dat hulle met die beste bedoelings soms aanmeld, met voorstelle kom, idees het ensomeer. Ons gaan drink tee.

Na teetyd se ‘n skerpsinnige kollega uit Nederland- die vraag pla hom.  Om eerlik te wees, se hy, hy is nie seker of hy op die manier glo in die lidmate van hulle gemeente nie. Ander ego sy gevoel. Ons praat dikwels meer negatief oor lidmate as positief, se ons vir mekaar.  Ons praat verder en begin al hoe meer wonder of daar nie in ons predikante ‘n ingebore- of is dit eerder ‘n aangeleerde agterdog is oor die toewyding of motiewe of bedoeling van lidmate nie. Aan die einde van die kursus se ‘n SA predikant dat sy die week agter gekom het die kerk het haar geleer om agterdogtig te wees- en sy is nie eintlik so van geaardheid nie. Ek dink sy slaan die spyker op die kop- Hier is nie leiers nie want as hulle na vore kom word hulle dikwels (ek dink onbedoeld) met agterdog bejeen.

Ek verstaan dit baie goed- predikante en gemeenteleiers word dikwels teleurgestel deur mede-gelowiges wat dinge belowe en nie die beloftes nakom nie. Dan begin die agterdog groei en voor ek my kom kry begin ek so agterdogtig oor elke nuwe inisiatief te dink.  Ek sien dit dikwels by dosente of onderwysers- wat met sterre in hulle oe begin en voor hulle kom kry praat hulle soos die ander kollegas oor studente en leerders, Jy sal maar sien jy kan hulle nie vertrou nie!

..en dan kry jy die uitsonderings. ‘n Kollega van ‘n gemeente waar die bedieninge hand oor hand gegroei het die afgelope halwe dekade vertel dat hulle in 6 jaar se tyd vir elke inisiatief ja gese het en dan byvoeg Hoe kan ons jou help? Daar is nie ‘n gebrek aan leiers nie- inteendeel daar is telkens nuwes wat hulle aanmeld- sommige is baie besige en belangrike mense maar wat aanvoel in hierdie gemeente is daar ‘n ruimte om my gawes uit te leef.

 

In die Jordaan buurt in Amsterdam is daar ‘n pragtige standbeeld van ‘n ene Meneer  Theo Tijssen- ‘n onderwyser wat in die vorige eeu toe Amsterdam baie arm was en daar in die arbeidersbuurt baie jonges op straat was  oppad om niksnutte te word.  Hy word vereer omdat hy soveel deernis en geloof in die jonges gehad het. Die standbeeld wys ‘n ou man met ‘n welige snor wat skuins op die bank van ‘n jong seun sit- hy kyk af na die onseker seun- ons ken die prentjie almal so goed- uit ons kinder geheue kan ons die ervaring van die seun maklik oproep.  Maar as jy nader stap kom jy agter hier is ‘n verskil- die blik van die leraar is sag en hoopvol en dalk nog belangriker, geduld!  Daarom word hy vereer- hy het ander na die leerders gekyk want hy het anders oor hulle gedink!

 

 

 

NS Die kollega wat so vir elke inisiatief ja gese het kry die onvermydelike vraag: …en hoeveel probleme moes julle in die 6 jaar oplosDaar was een probleem sitausie, antwoord hy, maar om te dink hoeveel potensiele leiers ons sou gekeer het indien ons nie elke keer ja gese het nie!

Trackback from your site.

Leave a comment