{ARGIEF}

My entrepeneur/vriend vertel oor ‘n koppie koffie van sy moedeloosheid. Sy besigheid is so 4 jaar oud. Soos enige nuwe besigheid in die boubedryf is hy konstant onder kontantvloei druk, maar hy is van die beste in sy veld, goed opgelei, tegnies van die beste wat jy kan kry en goed genetwerk. Met innovering ontwikkel hy die hele tyd nuwe produkte, skep nuwe geleenthede. So het hy kon groei sodat hy tans ‘n 15-tal mense in diens het.  Maar hy moes weer iemand aflê, omdat die man gesteel het, vertel hy. Die werknemer se verweer is eenvoudig: “Meneer, almal steel tog”. My vriend is moedeloos: “Die morele vesel van ons samelewing torring uit, en ons kry nie ‘n skoon naat gestik om dit te keer nie” sê hy toe hy nog ‘n stuk hout op die vuur gooi. Almal steel tog meneer!

 

Die beste mense in ons gemeenskap is besig om moedeloos te raak. Die dokters, die onderwysers, die entrepeneurs. Hulle verloor hoop.  In hulle koppe is die bedankingsbriewe al geskryf en moet nog net ingegee word.

 

Wat moet gemeentes maak in so ‘n tyd? Ons kan tog nie al die toilette gaan skoonmaak nie – al moet ons dit ook meer gereeld doen – of almal wat steel vervolg nie – al moet ons ook opstaan teen korrupsie. Ons kan nie almal gaan klas gee nie – al moet ons ook meer by die onderwys betrokke raak en dalk as gemeente ‘n onderwyser of skool aanneem. Hoewel dit dinge is wat ons ook moet doen, dink ek dat ons nog ‘n veel belangriker taak het:

 

Ons kan hoop bring vir mense wat hoop verloor het. Gemeentes is immers draers van Hoop.

 

My entrepeneurs vriend gaan nie sy besigheid se deure toemaak nie.  Die onderwyseres sal Maandag weer voor die klas staan, en ek hoop dr Penzhorn gaan haar bedanking terugtrek. Nou wonder ek, of hoop ek, dat hulle Sondag in geloofsgemeenskappe sal wees wat in méér as betrokkenheid in die gemeente belangstel. Gemeentes behoort in hierdie tyd  juis vir hulle wat op die voorste loopgrawe werk, wat op die punt is om handdoek in te gooi en die tou te los, hoop te bring. Ons het ‘n besondere rol om in hulle lewens te speel. Om aan hulle die goeie nuus van die evangelie te bring. Goeie nuus wat vir hulle ‘n  ánder perspektief kan gee. Nancy Ammermann, vertel in haar boek Pillars of Faith (University of California Press, 2005) dat as mense inskakel in gemeentes, die kanse veel beter is dat hulle betrokke sal wees in die gemeenskap, en meer nog, dat hulle betrokke sal bly, al word dit moeilik. Ons weet dit nie altyd nie, skryf sy, maar as mense aan die evangelie blootgestel word, ontvang hulle geloof en hoop wat hulle taai maak en laat hulle aanhou en volhard.

Om draers van Hoop te kan wees, sal vra dat gemeentes se verbeelding nie primêr gevoed kan word deur die effektiwiteit al dan nie van die regering nie. Ook nie deur die  stand van die ekonomie nie. Die hoop wat ons dra, is ook nie gebou op politieke stabiliteit of politieke  onrus nie. Die hoop wat ons bring, kom vanuit ‘n ander verbeelding wat in die opstanding van Christus gegrond is. Gemeentes wat hierdie hoop dra, kan oor God praat as een wat lewend teenwoordig is in die chaos. Dié Een wat lewend teenwoordig is in die kliniek waar die toilette nie skoongemaak gemaak is nie, en die leggers onvolledig is. Die God wat in die wiskunde klas lewend teenwoordig is, en deurbrake gee ten spyte van die onverstandigheid van die departement. Dié God wat sy lewe gegee het vir geregtigheid ten syte van groeiende korrupsie in ons samelewing. Dié God wie se teenwoordigheid ons laat volhard, lank nadat die optimiste en die realiste die verhoog verlaat het.

As ons klaar gekla het oor korrupsie, ons onvergenoegdheid uitgespreek het oor oneffektiwiteit; As ons die stand van die ekonomie geanaliseer het en ons politieke voorspellings gemaak het; As ons dit alles klaar gesê het, het ons dan nog iets om te sê oor die hoop wat nie van ons af kom nie, maar gebore is in ‘n leë graf?

 

Ek daag myself en jou uit om vir hulle wat moed verloor van hierdie hoop te vertel.