Is die dominee die kaptein of die afrigter?

Written by Frederick on . Posted in Leierskap

Leraars voel dat omdat hulle betaal word deur die gemeente en die gemeentelede “vrywilligers” (sic) is, behoort hulle darem die mense te wees wat “presteer “ en harder werk as die res. Hulle val dan maklik in die “activity-trap” waar hulle waarde gemeet word aan hoe besig hulle is. So verdien ek my geld, troos die Leraar hom/haarself. Kort voor lank is hulle in beheer van omtrend alles in die gemeente, en word hulle dikwels sonder om dit te bedoel die prop wat ander weerhou om ook inisiatief te neem. Ek doen dit maar liewer self, as wat ek moet sukkel om die foute wat ander maak reg te stel- hoor ek baie dikwels predikante bieg- of is dit nou brag?  Hoewel hier sistemiese en strukturele redes voor is, dink ek moet ons dieper kyk na onsself. Ons is soos ons kultuur ons leer maar te geneig om ons selfwaarde te meet aan wat ons doen en nie aan wie ons is nie. Baie leraars het nog nie tuisgekom in hulleself nie en moet besig bly om emosioneel uit die moeilikheid te bly.  Geen hersturkturering of selfs nuwe visie in die gemeente gaan daarmee help as jy nie self die reis na binne onderneem en tuis kom in jouself nie.  Ons waarde lê tog nie is wat ons doen en hoeveel ons doen nie, maar in wie ons is, soos gevorm deur ons verhouding met die Drie-enige God. Dit sal vir ons moeilik bly om ons rol nuut te verstaan as hierdie tuiskoms nie plaasvind nie.

Aan die ander kant is gemeenteleiers ook genee om met die prestasie-klosules te omhels want dan bly hulle in beheer en kan hulle die Leraar makliker “bestuur”. Die probleem hiermee lê nie in die poging om ‘n sisteem van verantwoordbaarheid te skep nie. In gemeentelike sisteme, soos enige ander sisteem, waar daar nie verantwoordbaarheid is nie, ly die verhoudings uiteindelik daaronder. Om mekaar te verskoon van afgesproke verantwoordelikhede het niks met ‘n christelike lewenswyse te make nie en is ook nie ‘n be-oefening van genade en liefde nie. Om verantwoordbaar gehou te word vir ooreenkomste is ‘n goeie en belangrike gewoonte in geloofsgemeenskappe omdat dit die uitlewing is van waardes soos betroubaarheid en respek. Die styl waarin ons dit doen behoort te getuig van genade.

Die vraag is wel: wat is die rol wat die Leraar moet vervul, en waaraan behoort ons hom of haar verantwoordbaar te hou?

Ek gaan probeer om ‘n invalshoek te probeer. Ef 4:11-12 sê dat daar aan die gemeente herders, leraars, apostels,profete  en evangeliste gegee is om die gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk in die opbou van die gemeente. Die leraars rus dus ander toe vir hulle dienswerk. Die leraars se primêre funksie is daarom nie om self die dienswerk te verrig nie maar ander toe te rus- of af te rig vir hulle dienswerk. Die Leraar speel dus nie in die span as daar ‘n wedstryd is nie, hy of sy rig die ander af vir die eintlike wedstryd. Die eredienste, kleingoepe en vergaderings is oefenruimtes waar ons voorberei word vir die wedstryd op die markplein.  Kyk ‘n bietjie wat doen afrigters anders as kaptiens. Kapteins lei op hulle beste van voor af, deur hulle voorbeeld, deur harder te speel as die res en so die span te motiveer.  Die afrigter staan op ‘n afstand en kyk, sien die kwaliteite en gebreke van die spelers raak. Ja die afrigter werk op hulle manier ook baie hard, maar hulle werk anders, en kyk anders as kapteins. Want sien, ‘n agrigter mag nie op die veld gaan nie, sy of haar sukses lê nie in hoe goed hulleself die bal kan skop (die Bybel kan uitê nie) maar hoe goed hulle spelers die bal kan skop ( die Bybel kan uitlê).

Mahedra Singh Dhoni, kaptein van die Indiese krieketspan wat die naweek in die ICC Wêreldbeker se eindstryd teen Srilanka  te staan kom, vertel is vanoogend se koerant die volgende van sy afrigter, Gary Kirsten:
“Sedert Gary oorgeneem het, het dié span soos ’n gesin geword,” het die Indiese kaptein, Mahendra Singh Dhoni, gister gesê. “Die manier waarop hy elke individu bestuur het, die manier waarop hy ons laat oefen het en die manier waarop hy elkeen van ons in onsself laat glo het, word weer­spieël in die manier waarop ons speel en dis ’n fantastiese gevoel.”

Ek sit onlangs by ‘n kursus en ons praat hieroor. Een van die kursusgangers begin vertel van die inpak wat Doc Craven op hom gehad het. Hy vertel van sy kennis van die spel, sy intense belangstelling in elke speller, hoe hy een-op-een met hulle gesit ‘n strategie bespreek het en hoewel hy streng was en jou goed die waarheid kon vertel, het jy nooit getwyfel daaraan dat hy in jou glo nie! “Ek weet daar is niemand wat in my lewe ‘n groter invloed gehad het as hy nie, nie eers ‘n dominee nie”, sluit hy af.

Ek wonder of ons nie op ‘n verkeerde manier “verlief” of afhanklik is van ons werk as leraars nie. Of wat sal die rede wees waarom ons, ons “kansels” so beskerm. Ek wonder of ons dink daar sal nie meer vir ons werk wees as ons begin afrigters raak nie, of wat is die vrese wat ons weerhou daarvan om te begin glo dat die Here regtig gawes gegee het aan elk van die lidmate in ons gemeente, en dat ons die mense is wat mense moet help om die gawes raak te sien, dit te be-oefen sodat hulle in die raadsale van die lewe die Woord kan begin bring en leef.

Trackback from your site.

Leave a comment